Liewe gemeente,

Ek kry nooit regtig kans om my kat dop te hou nie. Gewoontlik kom ek laat in die middae by die huis, en sodoende het ek geen manier om te weet hoe sy dag benader nie. Nou het ek egter baie tyd, en ek staan verstom oor sy erg roetine-gedrewe dag program. Hy loop elke dag die selfde paaie, en ek kry hom sekere tye van die dag op spesifieke plekke in die tuin. Hy is só stiptelik in sy program dat ek my horlosie volgens hom kan instel. Ek besef al hoe meer hoe die inperkingstyd my óók gedwing het om `n strenger roetine te volg. `n Groot deel van die dag bestaan uit skoolwerk. Dan is daar dagstukkie skryf, kosmaak, preke skryf en navorsing. Ek kry selfs meer tyd om baie meer gestruktureerd geestelike boeke te lees. Boonop kry ek tyd vir meer geordende stiltetyd. Dit het my laat dink...

Jare terug het Gordon MacDonald `n boek gepubliseer wat in Afrikaans vertaal is met "`n Tyd vir Orde". MacDonald het in dié boek beklemtoon hoe belangrik orde in jou persoonlike verhouding met God is, veral wat stiltetyd betref. Ek het die boek `n paar keer probeer lees, maar dit het my dikwels gefrustreer. Dit klink té programmaties, té georden. Vandag maak die orde vir my meer sin. Ek het gister die inperkingstyd met die kloosterlewe vergelyk, en dié beeld bly by my. Ek begryp skielik die waarde daarvan om "gedwing" te word om op spesifieke tye stil te word, hetsy dit met Bybellees gepaard gaan, en of dit net stilsit, luister, en diep dink is. Ek verstaan hoe belangrik dit is om op `n gedissiplinereerde wyse spesifieke tye hiervoor af te baken. Natuurlik het ek vroeër ook tyd gemaak hiervoor, maar nie op so `n sterk roetine-gedrewe wyse nie. Ek kom agter hoe die orde my dag begin definieër. Ek maak selfs tyd vir musiek-luister! Vroeër het ek musiek in die motor geluister as ek van afspraak tot afspraak jaag. Vandag maak ek tyd in die aand waar ek agter my rekenaar inskuif, my oorfone aansit en rustig musiek luister. Ek verstaan dat die lewe weer gejaagd gaan word, maar selfs dan sal ek my gedissiplineerde stiltetyd-roetine vir niks verruil nie.

Terug by my kat-ek merk op hoe hy elke dag sy roetine met `n opgewondenheid begin. Vroeër sou dit vir my vervelig gelyk het, maar ek beleef iets van sy opgewondenheid oor my eie roetine. My dag is op die oomblik baie voorspelbaar, maar tog is dit is sinvol en iets om na uit te sien!
Groete
Ds Johan

Comments

Popular posts from this blog