Liewe gemeente,

Daar is `n ou-ou verhaal van `n Sultan wat twee diewe ter dood veroordeel. Hy gee egter vir hulle `n kans: as hulle sy perd kan leer praat binne `n jaar, sal hy hulle lewens spaar. Anders is dit julle einde. Die eerste dief erken vir die Sultan dat hy nie perd kan leer praat in `n jaar nie. Hy word na buite gelei, en terwyl hy op sy lot wag, sien hy die tweede dief uitstap as `n vry man. "Is jy mal? vra hy hom. Binne `n jaar is jy `n dooie man! Jou vryheid is niks werd nie!". Die ander dief het geglimlag en geantwoord" `n jaar is `n lang tyd. Dinge kan  verander. Ek kan skielik doodgaan, en net so kan die Sultan een aand in sy slaap doodgaan. Ons weet nie. As nie een van ons sterf nie, wel dan het ek `n jaar om die eerste persoon te word wat `n perd leer praat!". 

Dinge verander. Die engelse het `n spreekwoord"This too shall pass". Ons sien hierdie gedagte in Psalm 126. Die psalmdigter hoop dat God die volk se lot sal verander. In die tweede strofe van die psalm lees ons die volgende"Wie met trane saai, sal die oes met `n gejuig inbring. Al loop hy en huil, terwyl hy die saaisak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra". Met ander woorde: God is in beheer van die seisoene, en net soos daar `n saaityd is, is daar ook `n oestyd wat kom. Soos God in beheer is van die seisoene, so is Hy in beheer van die seisoene van my lewe. Ons kan nooit net vaskyk in die probleme van hier en nou nie. Lees weer Psalm 126 en hoe God ingryp in ons lewens.

Gebed:Kom ons dank God vir die feit dat Hy ons lewens in sy hand hou. Ons bid vir wysheid, sodat ons nie in die huidige uitdagings vaskyk nie, maar sal vertrou op God wat die seisoene in sy hande hou. 
Groete!
Ds Johan

Comments

Popular posts from this blog