GEDAGTE VIR DIE DAG
Ek het die afgelope week, met die “baie tyd” tot my beskikking, een van die
stokperdjies waarvoor ek lief is, naamlik om houtwerk te doen, weer opgeneem. Ek
het jare gelede ou Oregon Pine deure (dit is ‘n gesogte houtsoort) by iemand
opgekoop met die hoop om dit iewers te restoureer. Die deure het omtrent vier lae
verf gehad, soos die mense maar oor die jare al die “flaws” en die skade wat
ontstaan het, probeer wegsteek het. Verf kan nogal “foute en swakplekke” goed
wegsteek.
Soos te verwagte, soos ek die verf afgehaal het, het hierdie “flaws” sigbaar geword.
Daar was plekke waar die hout verrot het en dit is net met houtvulsel opgevul en
toegeverf sodat jy dit nie kan sien nie. Op ander plekke, wat seker ook met die tyd
beskadig, is daar sommer goedkoop hout ingelas, en ook mooi netjies toegeverf.
Daarom dat die persoon wat dit aan my verkoop het, met groot oortuiging gesê het
dat die deure absoluut niks makeer nie en geen skade het nie. Natuurlik, met die verf
op, kon ek nie die skade sien nie. Of hy regtig daarvan geweet het, weet ek ook nie.
Feit bly, ek sal nou eers herstelwerk aan hierdie deure moet doen, voordat ek
enigiets verder daarmee kan maak.
Nietemin, dit het my aan die dink gesit. Is dit nie dikwels wat ons met onsself doen
nie? Ons “verf” ons foute en “flaws” toe, sodat ons van buite af “perfek” kan lyk. En
ons gee onsself voor as “sonder foute”. Ironies genoeg werk dit dikwels baie goed,
want mense kyk na ons en sê: Sjoe, kyk hoe pragtig is daardie deur!” En dan op ‘n
dag, as die deur byvoorbeeld skielik natreën en die verf kom af, dan wys al die foute
en die “flaws”.
Dit beteken egter nie dat die deur nou weggegooi moet word nie – dit kan
reggemaak word, soos ek nou besig is om met hierdie deure te doen.
En, die grootste “Skrynwerker” van alle tye, kan enige deur regmaak, maak nie saak
hoe vol foute en “flaws” hy is nie. Kom ons kyk bietjie saam, vir die res van die week,
hoe God my deur, met al sy foute kan, restoureer ….
Ds Gerrie

Comments

Popular posts from this blog