GEDAGTE VIR DINSDAG (21 APR)

Ek wil graag hierdie week bietjie stilstaan by die gelykenis van die saaier, waarvan ons in Matteus 13 lees. Jesus het by die see gaan sit en ‘n groot groep mense het om Hom saamgedrom. Hy moes selfs in ‘n skuit gaan sit omdat Hy nie plek gehad het om te staan nie. Dan vertel hy hierdie gelykenis.

Die saaier gaan uit om te saai. Verskillende dinge gebeur. Party saad val op die pad, ander op die rotse. Nog ander beland tussen die onkruid. Gelukkig val baie van die saad ook in die goeie grond. Wat met hierdie saad gebeur, word bepaal deur waar dit geval het. Ons gaan elke dag by een van hierdie stuasies stilstaan.

Voor ons daarby uitkom, is daar ‘n ander belangrike beginsel waarvan ons moet kennis neem. Jesus, as die Saaier, is nie selektief met die saad wat Hy saai nie. Hy saai, ongeag waar die saad val. Met ander woorde, die saad is nie net vir sekere plekke (sekere mense) bedoel nie. Dit is vir almal beskikbaar. God se Evangelie is nie net vir bepaalde uitverkorenes nie – dit word vir almal gesaai.

Ons gebruik baiemaal die uitverkiesing as ‘n argument om te sê dat, as ek nie uitverkies is nie, het ek in elk geval nie ‘n kans nie. Dit is ‘n verkeerde siening. God se saad is vir almal beskikbaar, die Evangelie is daar vir almal.

Wat ek daarmee gaan doen, is natuurlik die vraag waaroor die res van die gelykenis handel. Ons praat van more af daaroor.

Ds Gerrie

Comments

Popular posts from this blog