GEDAGTE
VIR DONDERDAG (23 APR)
Gister
het ons gepraat oor die saad wat op die pad geval het en deur die
voëls gevreet is. Vandag praat ons oor die saad wat op die klipbanke
geval het. Die gelykenis vertel dat hierdie saad baie vinnig opgekom
het. Omdat die grond egter nie diep genoeg was nie, het die saad nie
wortel geskiet nie en toe die son warm word, het dit verskroei.
Jesus
verduidelik dit as volg. Dit verteenwoordig mense wat die Woord van
God met blydskap aanneem. Dit skiet egter nie wortel nie, en die
oomblik wat daar probleme of teenspoed kom, dan vergaan hierdie saad.
Dit is inderdaad waar van sekere mense. Hulle hoor van God, is baie
opgewonde daaroor, maar daar is geen diepte nie. Sodra dinge nie
perfek verloop nie, dan verdwyn al die “blydskap”. Dit beteken
dat die saad, net so vinnig as wat dit opgekom het, weer tot niet
gaan.
Ek het gister genoem dat
hierdie gelykenis nie net op mense in die algemeen fokus nie, maar
ook op my en jou persoonlik. Wat Jesus hier probeer kommunikeer, is
dat, as die Woord van God net oppervlakkig in ons lewens teenwoordig
is, dit nie gaan hou nie. As dit nie wortel skiet nie, gaan die son
dit verskroei die oomblik wanneer ons onder druk kom. Wanneer God met
ons praat, moet dit wesentlik deel van ons lewens word en moet ons
dit gaan leef. Dit is die enigste manier om seker te maak dat die
saad (die Woord van God) tot volle wasdom in ons lewe groei.
Ds
Gerrie
Comments
Post a Comment