GEDAGTE
VIR VRYDAG (24 APR)
‘n
Deel van die saad beland tussen die onkruid, maar, word daar gesê,
die onkruid het opgekom en die plante laat verstik. Jesus verklaar
dit so: Die saad tussen die onkruid verteenwoordig mense wat die
Woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid
van rykdom verstik die Woord en dit bly sonder vrug.
In
die algemeen gesproke wil Jesus sê dat dit baie maklik gebeur dat
dinge “rondom” ons kan maak dat die Woord van die Here nie inslag
by ons vind nie. Heel waarskynlik verwys “bekommernisse” hier nie
na gewone alledagse bekommernisse nie, maar eerder na bekommernisse
wat te doen het met die daaropvolgende verwysing na verleidelike
rykdom. Dit gaan dus oor mense vir wie die welvaart van die lewe so
belangrik is dat die Woord van God by hulle verbygaan.
Hoe
raak dit my en jou as gelowige kinders van God? Ek dink die
waarskuwing is dat ons, selfs al is ons kinders van God, steeds die
gevaar loop dat ons by geleentheid verlei kan word deur die wêreld
met al sy aanloklikhede. Die moontlikheid bestaan dat ons so
meegevoer kan word deur allerlei versoekings om onsself te verryk,
dikwels ten koste van ander mense, dat die Woord van God in die
proses by ons verbygaan.
Die Bybel is immers baie
duidelik: Wees dankbaar vir wat jy het. Wanneer eie belang en eie
rykdom te belangrik word, word ons deur die onkruid doodgedruk en kan
ons geen vrug dra nie.
Ds
Gerrie
Comments
Post a Comment