GEDAGTE VIR WOENSDAG (22 APR)

Die Saaier (daar word waarskynlik na Jesus self verwys) gaan uit om te saai. Die saad val op verskillende plekke. Die eerste plek wat genoem word, is die pad. Natuurlik dink ons nie aan paaie soos in ons tyd nie, beslis nie ‘n teerpad nie. Die punt is egter dat dit ‘n harde oppervlakte is waar die saad geen kans het om te ontkiem en wortel te skiet nie.

Wanneer Jesus self die gelykenis verduidelik, doen Hy dit so. Die saad wat op die pad val, verwys na mense wat die Evangelie hoor, dit nie (wil) verstaan nie, en dan kom die voëls (Satan) en vat die saad weg.

Dit is maklik om baie “objektief” hierna te kyk en vir onsself te sê: Dit raak my nie eintlik nie, want dit verwys na mense wat doelbewus nie die Woord van God ernstig opneem nie. Hulle is kliphard soos ‘n pad en die Evangelie maak geen indruk op hulle nie. Ek is tog nie so nie! Dit mag wel waar wees, MAAR ….

Die gelykenis funksioneer op twee vlakke. Enersyds word daar verwys na verskillende tipes mense en hoe hulle reageer op die Woord van God. Maar daar is ‘n ander tweede (en belangriker) vlak waarop die gelykenis funksioneer.

Die gelykenis verwys ook daarna dat daar in elkeen van ons by geleentheid “verskillende tipes mense funksioneer”. Dit is dus heeltemal moontlik dat die saad soms by my ook op die pad beland. Omdat dit egter nie is wat ek WIL hoor nie, gaan dit by my verby en die voëls pik dit op. Op hierdie manier is die gelykenis baie “subjektief” en persoonlik en word ons gewaarsku om nie die Woord van die Here by ons te laat verbygaan nie, veral nie as dit van my vra om bepaalde besluite te maak en opofferings te maak nie. As die saad op my klipharde pad val, is dit vermorsde saad ….

Ds Gerrie

Comments

Popular posts from this blog