Gemeente ek groet julle op dag 8
Toe ek vanoggend met groot dankbaarheid gesond wakker geword het onthou
ek vir Jona wat drie dae in die maag van ‘n groot vis was, en ek dink, ek vat ons
drie weke van afsondering enige dag bo Jona se drie dae inperking in die maag
van ‘n vis.
Ek is besig om die nuwe boek van Roy Murray Daniel: Corona and the Cross, te
lees. In sy inleidende hoofstuk haal hy Pres. Donald Trump aan uit ‘n toespraak
wat hy op 04 Februarie 2020 gemaak het: “The years of economic decay are
over. We are moving forward at a pace that was unimaginable just a short time
ago, and we are never going back.” Roy haal dan Spreuke 27:1 aan: “ Moenie
roem oor wat jy môre verwag nie; jy weet nie wat die dag sal op lewer nie.” Ons
weet wat het met die VSA se ekonomiese groei geword sedert daardie
uitspraak, ‘n totale ineenstorting.
Ek het onmiddelik gedink aan Jakobus 4:13-17 (gaan lees dit gerus) wat handel
oor “Afhanklikheid van God.” Jakobus gebruik ook hier die voorbeeld van
uitsprake oor ekonomiese welvaart en vra dan die vraag hoe ons as mens in ons
beperktheid sulke uitsprake kan maak en dan gee hy vir ons die Bybelse riglyn,
ek haal vers 15 aan: “Julle moet eerder sê as die Here wil, sal ons lewe en sal
ons dit of dat doen.” Ek kan onthou in my groot word dae is die afkorting Dv
gebruik wanneer gepraat is oor iets wat môre of in die toekoms moet gebeur. Dv
is die Latynse afkorting van Deo volente, as die Here wil.
Geliefdes in die Here, wat het geword van ons totale afhanklikheid van God. In
baie gevalle het die tegnologie ons bron van afhanklikheid geword want ons
vertrou so op die tegnologie, want alles verloop so glad. My gebed is dat hierdie
wêreld krisis ons weer sal laat terugkeer na die ware bron van ons
afhanklikheid, die Here God. Ek bid dat daar weer ‘n herlewing sal kom in die
lewe van die kinders van God, dat ons soos Josua opnuut sal uitroep: “Ek en my
huis, ons sal die Here dien.” Kan jy onthou, Josua het opnuut hierdie toewyding
om die Here te dien gemaak toe hy al baie oud was.
Gee jy opnuut die eerste tree van algehele afhanklikheid en toewyding aan die
Here in jou huis, en neem jou huismense saam met jou soos Josua die volk
saam geneem het.
Ek groet met ‘n opgewonde verwagting van die herlewingskrag van die Heilige
Gees wat soos ‘n vuur in ons sal brand.
Ek skryf Dv. weer môre vir jou.
Vrede vir jou
Cois

Comments

Popular posts from this blog