Gemeente ek groet julle op dag nege.
Dit was vir my so lekker om hierdie week saam met julle te kon kuier. Kry ‘n koppie koffie
en kry jou sit op jou gunstelling stoel of bank en dan kuier ons vandag sonder dat die
koronavirus in ons kop is. Kom ons draai bietjie weg van die wêreld gebeure en ons rig ons
oё en ons gedagtes op Jesus Christus ons Here en Verlosser.
Jesus wou seker maak ons is nie bang nie want om bang te wees maak dat die probleem
groter as God lyk. Hy sê drie keer in Matteus, die gedeeltes in Markus stem ooreen met die in
Matteus so ons tel hulle nie hier by nie, drie keer in Lukas, een keer in Johannes , twee keer
in Handelinge en een keer in Openbaring vir ons: “Moenie bang wees nie.” Ek haal vir ons
Luk. 12:32 aan: “Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader
om die koninkryk aan julle te gee.” Jesus is in die geval besig om met Sy dissipels te praat
oor die sorge van die lewe. Ongeag wat die wêreld na ons toe bring, ons staan op die Rots en
Jesus sê aan Petrus dat die magte van die doderyk nie Sy kerk sal oorweldig nie.
Jesus wou ook seker maak ons word nie moedeloos of moeg en sak uit nie. In Matt 11:28
nooi Hy ons: “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is en Ek sal vir julle rus gee.”
Onthou jy nog hoe lekker was dit om by pa en ma aan huis te kom. As daardie lekker
bekende reuke uit die kombuis jou tref het die stres sommer so van jou afgeval. Dit is waar
Jesus ons na toe uitnooi, daardie bekende beloftes en versekering uit Sy Woord van ‘n Vader
hart en ‘n Vader huis. Onthou jy nog die Halleluja liedjie: “Kom tuis, kom tuis; almal wat
moeg is kom tuis. Saggies en teer is die roepstem van Jesus, Hy roep vir jou en vir my.”
Maar daar was ‘n prys om te betaal, ‘n prys waarby ek en jy nooit by sou kon uit kom nie.
Hierdie prys is nie in rand waarde bepaal nie, dit is bepaal in vlekkelose heiligheid voor God,
en net een het die kriteria gehaal, Jesus Christus die vlekkelose Lam van God. Jesus sê al daar
in Joh 3:16 vir Nikodemus,: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee
het, sodat die wat in Hom glo nie verlore sou gaan nie.”
Geliefdes in die Here, dit is die laaste sewe dae van lydingstyd. Jesus het geweet Sy tyd op
aarde raak min. Hy preek met dringendheid Sy profetiese redes waarvan ons lees aan die
einde van Matteus. Hy roep Sy kerk, vermaan en bemoedig en Hy gee ons ‘n beeld van die
laaste dag. Hy gee die gelykenis van die tien meisies, Hy vertel aan ons die realiteit van die
skeiding en Hy roep ons op om volhardend te bid dat die vlam van die Heilige Gees in ons
lewe sal brand. Hy preek visueel, die vyeboom verdroog omdat hy nie vrugte aan het nie, en
Hy leer ons om die vrug van die Gees te dra het nie seisoene nie, dit is ‘n elke dag se
lewenswyse.
Geliefdes in die Here ek bid julle ‘n geseёnde Paasfees toe. Gebruik hierdie week om die
goedheid, liefde en genade van God te oordink en vier Paassfees met oorgawe, verheerlik
God en loof en prys Jesus Christus ons Here.
Ek groet jou vandag met groot dankbaarheid in my hart omdat ek saam met jou liggaam van
Christus kan wees in ons gemeente.
Vrede vir jou.
Cois
NB: Onthou om moreoggend rondom 09:00 in te skakel vir ons erediens deur op die volgende skakel te kliek(selfoon,rekenaar,tablet,ens): http://s44.myradiostream.com:7234/listen.mp3

Comments

Popular posts from this blog