Liewe gemeente,
Die bostaande skildery is
die bekende werk van Francico de Goya getiteld "El
sueno de la razon produce monstruos"
oftewel: "Die rus van
die rede bring monsters voort".
Let op hoe die digter aan die slaap geraak het. Sy pen het uit sy
hand uit geval en lê op
die tafel. Van oral kom grillerige nagdiere na vore. Selfs die groot
kat lyk nie vriendelik nie. Ek weet nie wat Goya met hierdie
sklildery bedoel het nie, maar ek lees iets van ons verbeelding wat
buite beheer kan raak met bangmaak-gedagtes.
Terwyl ons vandag steeds
aan woestyntyd en gebed dink, keer ek weer terug na Luther. Op `n
keer gee hy weer praktiese raad oor gebed en sê
dat gebed maklik roetine kan word. Al wat keer dat dit nié
roetine word nie, is wannneer ons bedoél
wat ons bid. Sy raad klink so: As jy bid, dink na oor elke woord wat
jy bid. Hy gebruik die Onse Vader as voorbeeld. As jy bid dat God se
naam geheilig moet word moet jy vra "
Hoe kan ek vandag help dat God se naam geheilig word.? Wat vra dit
van my?Moenie te veel op een oomblik probeer bid nie. Neem die Onse
Vader (om by die voorbeeld te bly) van sinsnede tot sinsnede en
oordink dit stukkie vir stukkie.
Nou keer ons terug na
Goya se skildery. Luther vertel dat ons gebedtyd dikwels deur
dwalende gedagtes oorval word. In so `n geval, kan ons dit liewer
los. Sulke gebede is sinloos. Die bostaande raad om elke sinsnede te
oordink, help juis om ons gefokus te hou en sodat ons nie aan ander
dinge dink nie. Kom ons gebruik in hierdie woestyntyd ons tyd om
behoorlik te bid, sodat die nagdiere van ons verbeelding nie onstyd met God steel nie. Bid korter. Bid gefokus.
Sterkte!
Ds Johan

Comments
Post a Comment