Liewe gemeente,

Ek deel met julle `n paar gedagtes, asook `n skrywe vir julle aandag:

Liewe gemeente,

Ek dink vandag aan die woorde van die Amerikaanse digter Theodor Roethke:” In a dark time, the eye begins to see”. Inderdaad. In donker, uitdagende tye sién ons werklik. Hierdie woorde spook vandag by my. Ek sien hoe ek die lewe, my werk en my kerk, as vanselfsprekend aanvaar het. Ek sien hoe ek mense as vanselfpsrekend aanvaar het.  Ek probeer die laaste erediens onthou wat ek bygewoon het, en ek verlang na die samesyn en die saam-aanbidding. Ek onthou ons Paaseier-skattejag sam met ons jeug. Min het ons geweet dat dit die laaste keer sal wees wat ons in `n lang tyd gaan saam wees. Ek onthou my laaste huisbesoek ( oom Stephen  en tannie Susan Liebenberg). Min het ek geweet ek gaan hulle vir`n lang tyd nie sien nie. Ek onthou (met spyt) hoe my laaste tenniswedstryd in `n woordewisseling ontaard het (ek het gelo dat my afslaan `n kishou was, en my broer het dit uitgeroep). Vandag wens ek dat ek weer `n tennisbal kan slaan!

Ek lees in Lukas 16(die verhaal van Lasarus en die ryk man) hoe die ryk ma elke dag by Lasarus verbygestap het, en hom net nie gesién het nie. Later verlang hy na die arm man... Die ryk man was só gewoond aan die gang van elke dag dat hy nie gesien het wat rondom hom aangaan nie. In hierdie tyd van afsondering besef ek hoe ek elke dag as vanselfsprekend aanvaar het, en hoe maklik ek  nie meer gesién het nie.

Ek glo ons gaan deur hierdie tydperk kom met `n hernude passie en waardering vir die lewe. Ek glo dat ons mekaar, en die lewe, meer gaan waardeer.

Groete en sterkte
Ds Johan


Maandag 13 April

Goeienaand aan almal

Ek wil julle graag op hoogte hou van ons gemeentesituasie, gegewe die feit dat die grendeltydperk met twee weke verleng is. Ek dink ons almal besef waarskynlik dat die impak hiervan veel verder gaan strek as 30 April ….

ONS EREDIENSTE

Ek is baie dankbaar dat dit vir ons moontlik was om die twee eredienste tydens die Paasnaweek uit te saai. Weer eens baie dankie aan Peet de Lange wat dit vir ons moontlik gemaak het.

Ons sal voortgaan met die uitsaai van eredienste totdat die “lockdown” verby is. Ons sal julle op hoogte hou via die Facebookblad. Eerskomende Sondag se diens sal deur ds Johan waargeneem word.

Ek wil graag noem. Daar was navrae of ons nie die briewe op Whatsapp kan plaas nie. Ongelukkig kan ons nie, ons stelsel maak nie voorsiening daarvoor om “bulk” Whatsapps uit te stuur nie

NUUS OOR LIDMATE

  • Ons het baie hartseer beleef die afgelope naweek. Een van ons jongmense, wat verlede jaar belydenis van geloof afgelê het, Natasha Smit, is die afgelope naweek oorlede na ‘n bloedklont. Sy was 17 jaar oud en ‘n matriekleerling aan Pretoria Noord Hoërskool. Ons vra asseblief julle voorbidding vir haar ouers, Natie en Tersia, en haar sussie, Anika. Ek het hulle vandag besoek en die seer is baie groot
  • Tannie Corrie Baragwanath het ook ‘n bloedklont in haar been. Dit gaan beter met haar, volgens oom Stan. Tannie Corrie, ons bid vir jou
  • Marietjie Bezuidenhout gaan more teater toe vir ‘n “scope” na haar kankerbehandeling. Marietjie, ons bid dat die uitslag goeie nuus sal wees

ONS PROJEK OM KOS TE VOORSIEN

Ek is steeds besig om kospakkies beskikbaar te stel waar daar nood is. Tot op hede kon ek ongeveer R 14 000 se kospakkies beskikbaar stel. In terme van ander projekte is dit waarskynlik ‘n klein bedraggie, maar ek kan julle verseker daar is groot dankbaarheid.

Ek wil weer vra, as jy weet van nood, laat my asseblief weet. As jy ‘n bydrae kan maak, laat my ook weet.

Dankie aan almal wat reeds bygedra het.

Kom ons bid asseblief vir mekaar …. en pas julleself asseblief op

Ds Gerrie


Comments

Popular posts from this blog