Liewe gemeente,
Ons vertoef vir oulaas by
die idee van die woestynvaders(en ons eie woestyn-ervaring). `n Konsep
wat nogal goed inpas by die woestynvaders is dié
van pelgrim-wees. Die woestynvaders wat in die woestyn gaan
woon het om die diepte van christenwees te herontdek, het iets geleer
van pelgrim-wees. Die woestyn het hulle geleer dat ons almal pelgrims
is, en dat pelgrims niks het wat hulle vasbind aan `n spesifieke plek
nie. Kom ek stel dit anders: ons raak so behep met besittings en ons
eie dinge dat ons onbewustelik ons hele lewens en al ons geluk daarop
begin bou. `n Pelgrim is iemand wat lig reis. `n Pelgrim is iemand
wat baie min bagasie saamdra, bloot omdat dit later te swaar raak om
saam te dra.
Ek vermoed dat ons nie
besef hoe swaar ons werklik reis nie. `n Woestyntydperk help ons om
te besef wat regtig noodsaaklik is. Ons reissake is dikwels gepak met
baie besittings, en nie een van hierdie besittings kan ons in `n
krisistyd hoop gee nie. Kom ons herontdek weer wat ons regtig nodig
het. Kom ons besef weer hoe die kleiner, eenvoudiger dinge in die
lewe ons hoop en rigting gee. Mag hierdie woestyntydperk `n tyd van
dieper dink wees, en mag ons besef wat dit beteken om `n pelgrim op
`n geloofspad te wees.
Dankie vir nog `n week se
saamdink en saamgesels.
Ds Johan
Dit is so waar!
ReplyDelete