Liewe gemeente,
Ons vertoef vir oulaas by die idee van die woestynvaders(en ons eie woestyn-ervaring). `n Konsep wat nogal goed inpas by die woestynvaders is dié van pelgrim-wees. Die woestynvaders wat in die woestyn gaan woon het om die diepte van christenwees te herontdek, het iets geleer van pelgrim-wees. Die woestyn het hulle geleer dat ons almal pelgrims is, en dat pelgrims niks het wat hulle vasbind aan `n spesifieke plek nie. Kom ek stel dit anders: ons raak so behep met besittings en ons eie dinge dat ons onbewustelik ons hele lewens en al ons geluk daarop begin bou. `n Pelgrim is iemand wat lig reis. `n Pelgrim is iemand wat baie min bagasie saamdra, bloot omdat dit later te swaar raak om saam te dra.

Ek vermoed dat ons nie besef hoe swaar ons werklik reis nie. `n Woestyntydperk help ons om te besef wat regtig noodsaaklik is. Ons reissake is dikwels gepak met baie besittings, en nie een van hierdie besittings kan ons in `n krisistyd hoop gee nie. Kom ons herontdek weer wat ons regtig nodig het. Kom ons besef weer hoe die kleiner, eenvoudiger dinge in die lewe ons hoop en rigting gee. Mag hierdie woestyntydperk `n tyd van dieper dink wees, en mag ons besef wat dit beteken om `n pelgrim op `n geloofspad te wees.

Dankie vir nog `n week se saamdink en saamgesels.
Ds Johan

Comments

Post a Comment

Popular posts from this blog