Liewe
gemeente,
Een
van die voordele van die inperking is dat `n mens tyd kry om aan
dinge te dink waaraan mens nooit gewoontlik dink nie. Tyd is in
hierdie opsig `n gawe. Vanoggend dink ek aan engele (waarskynlik
omdat ek gisteraand na Aretha Franklin se liedjie “Angel”
geluister het). Hoekom praat ons vandag so min oor engele? Is dit `n
goeie ding dat die woord basies uit ons woordeskat verdwyn het? Ek
lees weer wat die bekende Ou-Testamentikus Claus Westermann oor
engele geskryf het in sy deeglike studie getiteld"Gottes
Engel brauchen keine Flügel"oftewel: "God se engele
het nie vlerke nodig nie". Hy merk op dat dit moeilik is om `n
“bybelse” siening van engele te defineer, omdat die Bybel in
verskillende tye verskillend oor engele praat. Hy wys dan dat die
engele-tekste eintlik na God wil wys. Engele word dikwels juis
geteken sonder vlerke. In tye van nood word mense getroos deur gewone
mense. Eers later kom hulle agter dat dit engele was (Genesis 18 bly
`n mooi voorbeeld hiervan).
Ek
keer terug na Westermann se opmerking dat engele-tekste eintlik op
God wil fokus. Beteken die feit dat ons min oor engele praat, ook dat
ons te min oor God praat? Is die feit dat ons nie engele raaksien
nie, omdat ons verleer het om God te sien? (lees weer Hebrieërs 13:2
waar ons opgeroep word om gasvry te wees, want ons gaste kan dalk
engele wees. Blykbaar is ons onvermoë om engele raak te sien, al `n
ou probleem). Ek wonder of ons nie dalk verleer het om die
wonderlike, die goddelike raak te sien nie? Ons lewens het so gejaag
geword dat ons nie meer die wonderlike, die goddelike raaksien en
waardeer nie. In elke krisis is daar iets te leer. Mag ons weer leer
om God, engele, en die wonderlike raak te sien, te waardeer,en te
deel. Mag ons weer daaroor práát.
Groete
Ds Johan
Comments
Post a Comment