GEDAGTE
VIR DONDERDAG (7 MEI)
Gister
het ons gesels oor die gedagte dat die profete die volk aangevat het
omdat hulle nie die Wet van die Here nakom nie. Daarmee het hy vir
hulle gesê dat hulle nie moet kla oor ander se optrede as hulle eie
huis nie in orde is nie.
Die
profete het egter wel die volk se besware verstaan, veral ten opsigte
van die koning en sy amptenare wat die volk uitgebuit het en allerlei
onreg gepleeg het en toegelaat het. Luister wat sê Miga in hoofstuk
3: “Luister, leiers van Jakob, regeerders van Israel! Weet julle
nie wat reg is nie? Julle wat die goeie haat en die verkeerde
liefhet.” Daarna beskryf Miga hoe die leiers van Israel die gewone
mense uitbuit en verontreg. Hy sê vir hulle: “Julle eet my volk op
asof hulle vleis is.”
Hy
is ook baie fel in die oordeel wat hy oor hulle aankondig: “Wanneer
julle tot die Here roep, sal Hy julle nie antwoord nie en Hy sal Hom
nie aan julle openbaar nie.” Miga skroom vir geen oomblik om die
koning en sy amptenare uit te wys vir hulle wandade nie.
Ek
glo dat die kerk, en ons as Christene, nie net die reg het nie, maar
ook die verantwoordelikheid het om ons stemme te laat hoor as dinge
in ons land nie reg loop nie. En die kerk het dit al by baie
geleenthede wel gedoen. Natuurlik is daar slegte en goeie maniere om
dit te doen. As ons, in ons protes, verkeerde metodes gebruik, is ons
net so skuldig as diegene teen wie ons protesteer. As ons dit vanuit
Christelike oortuigings en op Christelike wyse doen, dan het ons die
reg om te protesteer.
Presies hoe ons dit gaan doen,
gaan dus bepaal of ons sukses gaan behaal, en of ons bloot ons eie
saak gaan benadeel met ons optrede.
Iewers
het ek gelees: Menige verdienstelike saak is al gekelder deurdat dit
verkeerd hanteer is ….
Ds
Gerrie
Mag ons die wysheid kry hiervoor dominee. Baie dankie vir die perspektief
ReplyDelete