GEDAGTE VIR MAANDAG (4 MEI)

Ek tel die afgelope paar dae duidelik op dat baie mense gefrustreerd en selfs geïrriteerd raak met die huidige omstandighede ten opsigte van die Lockdown. Ek kan dit nogal verstaan, aangesien ek self ook iets daarvan beleef. Die feit dat ons ingegrendel is, maak dat ons (na ses weke) voel genoeg is nou genoeg. Iemand noem vandag aan my dat dit hom begin vang dat hy nie eers by familie (oupa en ouma, of kinders of kleinkinders) kan uitkom nie, wat nog te sê by vriende. Ek dink dat dit inderdaad besig is om baie van ons se gemoed ‘n bietjie te beïnvloed.

Baie mense beleef ook die hantering van die Lockdown nie baie positief nie. Sedert gister word daar byvoorbeeld kliphard gebrom oor die reëling rondom die verspreiding van kospakkies (om van sigarette nie eers te praat nie !!). Andere is ontevrede met die reëlings ten opsigte van wie MAG werk, en wie nie. Ek gaan myself beslis nie uitlaat oor die meriete van sulke reëlings nie, maar wat ek wel besef, is dat die druk op ons al hoe groter word, hoe langer hierdie situasie voortduur.

Iemand vra my vandag: Nou wanneer mag ‘n Christen dan opstaan en sê tot hiertoe en nie verder nie? Ons moet mos van ons laat hoor as dinge verkeerd gaan, dis ons Christelike plig en verantwoordelikheid ! Ons kan nie net stilbly nie !

Dis ‘n baie moeilike vraag om te beantwoord. Natuurlik moet ons opstaan vir wat ons (in die lig van die Bybel) glo reg en regverdig is. Ek dink wat belangrik is, is HOE ons dit doen. As ons iewers in hierdie proses van “ek stem nie saam nie” ons basiese Christenwaardes gaan prysgee, gaan dit waarskynlik meer skade as goed doen ….

So, hoe dink julle, hoe gaan ons (as Christene) “beswaar maak” teen wat ons as verkeerde optrede / besluite / reëlings sien? Laat bietjie van julle hoor ….

(Asseblief, kom ons maak net nie ‘n politieke issue hiervan nie)

Ds Gerrie

Comments

Popular posts from this blog