GEDAGTE
VIR WOENSDAG (6 MEI)
Ek
is jammer daar het nie gister ‘n stukkie verskyn nie. Ek kan julle
die lang hartseer verhaal vertel, maar dis baie makliker om net te
erken: ek het vergeet ….
Ons
gesels bietjie oor die vraag: mag Christene in protes kom teen dinge
wat verkeerd gedoen word, selfs al is dit die staat ?
Die
gedagte van protesteer en beswaar maak teen dinge wat verkeerd is, is
natuurlik glad nie vreemd aan die Bybel nie. Daar is talle voorbeelde
van mense wat ernstig beswaar maak teen sekere dinge; ja, ook teen
die staat, en glo dit as jy wil, teen die kerk.
In
die Ou Testament is die klassieke voorbeeld hiervan die profete. ‘n
Mens sou kon sê dit was hulle daaglikse werk om foute en verkeerde
dinge uit te wys en daarteen beswaar te maak. Hulle het geprofeteer
teen drie groepe mense: (1) die volk as sodanig, (2) die koning en sy
amptenare, en dan ook (3) die kerk.
Jesaja
sê byvoorbeeld in hoofstuk 5:20: Ellende wag vir dié wat sleg goed
noem en goed sleg, wat van duisternis lig maak en van lig duisternis,
wat bitter soet noem en soet bitter. Hiermee vat hy die volk aan
omdat hulle nie leef soos wat die Wet van hulle vra nie. Wat onder
andere hieragter sit, is dat die volk baie gekla het oor wat die
koning verkeerd doen en wat die godsdienstige leieres verkeerd doen.
Wat Jesaja dus doen, is om vir die volk te sê: Julle kan nie oor
ander kla en teen hulle optrede beswaar maak, as julle eie huis nie
skoon is nie. Kyk eers na julleself, dan kan julle ander se optrede
kritiseer.
Dis
natuurlik baie waar van ons ook en is vir my die eerste groot
beginsel ten opsigte van die vraag waaroor ons praat. As ons as
Christene wil beswaar maak en protes aanteken, moet ons eie huis eers
skoon wees ….
Die Nuwe Testament sê:
Verwyder eers die balk uit jou eie oog, dan sal jy goed kan sien om
die splinter uit die oog van ‘n ander te haal.
Ds
Gerrie
Comments
Post a Comment