Liewe gemeente,

Ek voel altyd jammer vir hemelvaartdag. Ons ander feesdae kry baie aandag, maar hemelvaart sluip die meeste van die tyd amper ongemerk verby. Dit val altyd op `n Donderdag, en ek glo die meeste van die mense(gelowiges ingesluit!) kom nie eers agter dat dit `n feesdag is nie. Vroeër was dit makliker, want hemelvaart is as die begin van Pinkster gereken. Nou staan hemelvaart los, en word dit soos vroeër opgemerk, baiekeer geïgnoreer. Wat hierdie situasie nog meer hartseer maak, is die feit dat hemelvaart `n spesiale boodskap inhou, wat ons nié genoeg kan hoor nie.

Wanneer Jesus sy dissipels verlaat (Hand 1) is dit nie `n finale totsiens nie. Hy belowe dat sy Gees oor hulle sal kom (wat uiteindelik in Hand 2 en 10 gebeur).  Die boodskap val egter vreemd op ons oor. Jesus gaan weg, maar hy kom nader! Kom ek verduidelik dit so. In die Ou Testament verskyn God baiemaal fisies aan mense. Later kry ons al meer verwysings na engele. In die tyd van die Babiloniese ballingskap, toe `n groot deel van die volk weggevoer is na Babilonië, was daar skielik engele nodig. God het so vêr gevoel van die mense af, dat daar nou skielik tussengangers(engele) tussen God en mense nodig was.  Met Jesus se geboorte noem hulle Hom Immanuel-God met ons. Die bedoeling is dat God nou tussen ons kom woon. Met hemelvaart, en die belofte dat Jesus sy Gees sal stuur, kom woon God in sy volk se harte. Hy kan nié nader as dit kom nie. As ons na die bogemelde prentjie kyk, kan ons amper sê dat God deur die geskiedenis elke keer nader aan sy volk gekom het. Nou is hy in ons harte, en weereens: Hy kan nie nóg nader kom nie.  Om hierdie rede is hemelvaart belangrik Ons vier die feit dat God in ons harte, gedagtes, menswees kom woon het. Mag ons, veral in hierdie uidagende tyd, dit nooit vergeet nie.
Groete
Ds Johan


Comments

Popular posts from this blog