Liewe gemeente,

Ons het hierdie week bietjie gesien hoe maklik ons die Bybel misinterpreteer. `n Onlangse besoekende professor in die Ou Testament  het onlangs tydens `n publiek lesing aan die Universiteit van Pretoria na die Bybel as `n "gevaarlike boek" verwys. Ja, ons kan met losse, slordige  interpretasies van die Bybel nogal baie skade en skuldgevoelens by mense veroorsaak. Vandag deel ek met julle `n "scary" Bybelverhaal(ek gebruik die engelse woord ,want die artikel is oorspronklik in engels geskryf, en geen vertaling kan dit so goed vasvat soos die oorspronklike engels nie).

Ek lees `n Facebook inskrywing van die Amerikaanse skrywer en digter Kathleen Norris (www.facebook.com/KathleenNorrisAuthor/posts/1233913520087937). Sy het die Here gevind na `n afdraaipaaie met seks en dwelms (lees gerus haar boeke! Ek beveel Amazing Grace: A Vocabulary of Faith, en The Virgin of Bennington met `n oop gemoed aan).  In die Facebook-stukkie vertel sy hoe sy en haar man een aand in `n restaurant `n ongelooflike (en "scary") verhaal gehoor het. Hulle het aan die gesels geraak met `n persoon wat die volgende verhaal met hulle deel. Hierdie persoon was `n selfgemaakte suksesverhaal, wat nié `n tekort aan geld gehad het nie. Sy oupa, wat as `n brandarm immigrant in Amerika probeer boer het, het op hulle troudag vir hom en sy vrou `n spesiale wit Bybel gegee. Hulle name en die datum van hul troudag is in goud bo-op gegrafeer. Ná die troudag het hulle nie veel erg aan die Bybel gehad nie, maar hulle het darem `n dankiesê-briefie aan hom gestuur. Hy het in die jare daarna kort-kort na die Bybel bly vra. Jare later het hierdie persoon een aand sommer uit verveeldheid die Bybel gesoek waarna sy oupa altyd gevra het. Hy blaai daardeur en kry kort-kort geldnote weggesteek tussen die bladsye. Op die einde was daar 1300 dollar in die Bybel weggesteek. Natuurlik het sy oupa  uit hulle reaksie agtergekom dat hulle nooit die Bybel gelees het nie!Dit is egter nie die "scary" deel nie...Die man het sy verhaal geeïndig deur te noem dat hy wens hy het die  Bybel vroeër gelees, want  1300 dollar  was `n klomp geld in daardie tyd en dit kon `n mooi belegging in vandag se geldwaarde gewees het.

Sy noem dit "scary", want die man kyk nog stééds net in die geld vas. Dit is ál wat die Bybel vir hom beteken. Behalwe dat die Bybel in die verkeerde hande `n gevaarlike boek kan wees, is dit natuurlik ook vir ons `n rykdom wat nié in geld gemeet kan word nie. Ek dink ons ken ook "scary" verhale van mense wat deur hulle lewens gaan, sonder om die rykdom van God se woord te beleef. Dit is nie net "scary" nie, maar net sommer hartseer.

Groete
Ds Johan

Comments

Popular posts from this blog