Liewe
gemeente,
Dr
Gerrie het my gevra om vir die res van die week die dagstukkies te
hanteer. Ek doen dit met graagte! Met die oog op Pinkster wil ek
graag op die idee van nuwe lewe fokus, maar vir die volgende paar dae
wil ek die tema elke keer in verband bring met die visuele. Met ander
woorde:ek wil die tema met bekende kunswerke verbind. Met die oog op
Pinkster, dink ek vandag aan die bekende kunswerk van Edvard Munch
getiteld "The Scream".
Ek
dink die meeste van ons kan vandag met hierdie emosie assosieer!
Partykeer wil ons net skree van frustrasie. Kenners spekuleer al
lankal oor die kunswerk: die vreemde gebruik van oranje, en die feit
dat die “persoon” nie geeien kan word as `n man of `n vrou nie.
Daar is sommige artikels wat in Munch se verlede probeer indelf, en
daar word selfs gespekuleer oor die rol van godsdsdiens agter die
frustrasie. Interessant genoeg het Munch in `n gedig `n bietjie lig
laat val op die raaisel. Hy vertel hoe hy een aand met sonsondergang
saam met vriende gaan stap het. Skielik het hy `n paniek-aanval gekry
en hy het hoor "the enormous infinite scream of nature."
Die Duitse titel van die kunswerk is dan ook "Der
Schrei der Natur". Ons
maak dan die afleiding dat dit nie noodwendig die persoon is wat
skreeu nie, maar die natuur. Ek dink hierdie is die mooiste beeld van
`n stukkende wêreld. (klink baie soos Paulus in Romeine 8). Kyk `n
bietjie mooi hoe die kunswerk `n prentjie skets van`n wêreld wat
letterlik uitmekaar val(die snaakse kleur van die wolke, die
onheilspellende water). Wanneer ons volgende week Pinkster vier,
herinner ons mekaar juis dat God die gebrokenheid met Pinkster kom
heelmaak. Die wonder van Pinkster is dat God mense gebruik om die
gebrokenheid heel te maak.
Kom
ons dink vandag aan gebrokenheid in ons eie lewens. Verhoudings met
ander wat dalk nie op `n onweerspad is.Gebeure uit my verlede wat my
vreugde steel. Bekommernis wat die oorhand oor my kry-hierdie is maar
net `n paar voorbeelde. Vandag wil ek net twee vrae vra. Glo ons
regtig dat God kan herskep deur sy Gees? En glo ons waarlik dat God
vir my, met al my foute wil gebruik om heel te maak waar daar
gebrokenheid is?
Groete
Ds Johan

Comments
Post a Comment