Liewe
gemeente,
Ek
dink Openbaring is een van die boeke wat die meeste buite konteks
aangehaal word. Natuurlik is Openbaring vol van simboliek, wat enige
interpretasie nogal moeilik maak, en dit is waarskynlik die rede
waarom ons dit nie altyd nie mooi verstaan nie. Vandag wil ek
stilstaan by Openabring 3:20 "Kyk, Ek staan by die deur en Ek
klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom
ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My". Ek
het al soveer kere gehoor en die gelees dat die Here by die
ongelowiges se deure staan, en aan hulle deure klop. Ek het eenmaal
gehoor dat iemand `n stertjie bysit en vertel dat die Here êrens
gaan ophou klop. Hierdie vers is dan gebruik om halstarrige mense die
skrik op die lyf te jaag. Maak jou deur oop, of...
Die
konteks is egter belangrik. Die brief Openbaring is oorspronklik aan
sewe gemeentes in Klein-Asië gerig. Die spesifieke gedeelte kom uit
die boodskap aan Laodisea. Ons lees in Openbaring 3:14-22 dat die
mense in Laodisea ryk was. Hier lê `n sleutel vir die verstaan van
die teks. Die boodskap word nie aan halstarrige ongelowiges gerig
nie, maar aan gelowiges! Hulle het só ryk geword, dat hulle die Here
na buite geskuif het. Nou staan Hy buite die deur en klop om weer in
te kom. Ons besef nie hoe maklik dit is om die Here uit ons harte
te skuif nie. Baie kerkmense het lankal die kuns aangeleer om die
Here in sekere in gedeeltes van ons lewens te ken, maar nié in ander
nie. Ek keer terug na gister se nadenking. By die berg Sinai het God
`n verbond, `n ooreenkoms met sy volk gesluit. Hulle behoort aan
mekaar. Die geskiedenis het bewys hoe dikwels Israel dit vergeet het,
en God doodeenvoudig na buite gestoot het. Die gedeelte in
openbaring illustreer hoe God altyd in ons harte wil inkom, en hoe hy
deel van ons hele lewe wil wees. Vandag dink ons aan die vraag: is
God binne my hart, of staan Hy buite?
Groete
Ds
Johan
Comments
Post a Comment