Liewe gemeente,

Ek dink steeds aan tekste en frases wat so dikwels misgeïnterpreteer word. Vandag dink ek aan die derde gebod wat handel oor die feit dat ons nié God se naam moet misbruik nie (Eks 20:7). Ons verstaan gewoontlik hiermee dat ons nie God se naam as `n vloekwoord moet gebruik nie. Natuurlik is dit waar dat ons God se naam oneer aandoen as ons dit as `n vloekwoord gebruik. Ons kan dit nie ontken nie. Die probleem is egter dat ons die teks reduseer to nét `n oproep om nie God se naam as vloekwoord te gebruik nie. Die teks sê egter baie meer.

In Eksodus 19 lees ons dat God sy volk as `n priestervolk beskou. `n Priester is iemand wat tussen God en mens staan. `n Priester verteenwoordig as`t ware God tussen die mense. Nou is almal priesters. Almal moet God verteenwoordig. Dan kom die Tien Gebooie om te verduidelik hoe hulle God moet verteenwoordig. In hierdie konteks lees ons dan die derde gebod wat lees dat ons nie God se naam oneer mag aandoen nie. Sy volk, wat nou Sy naam dra, moet só leef dat hulle God se genade en reg weerspieël. Ons ontheilig dit deur nié die naam op `n gepaste wyse te dra nie. Wanneer ons optrede nié van genade en reg spreek nie, is ons besig om God se naam te ontheilig.

Hierdie uitdaging raak ook ons huidige inperkingstyd. Hoe praat en tree ek op in hierdie frustrerende tyd? Verkondig my woorde en optrede iets van God se liefde, genade en sy reg? Die laasgenoemde was vir die Ou-Testamentiese profete baie belangrik. Hulle frustrasie was dat die volk nié met genade en deernis teenoor mekaar en ander opgetree het nie. Kom ons dink en bepeins vandag die uitdaging van die derde gebod.

Groete
Ds Johan





Comments

Popular posts from this blog