Liewe gemeente,

Ek hoor dikwels die woorde: "God sal nie meer op jou pad bring as wat jy kan hanteer nie". Hierdie woorde word dikwels as `n vertroosting gebied aan mense wat juis op die oomblik voorval word deur hulle omstandighede. Hierdie teks is `n losse aanhaling van 1 Korinthiërs 10:13 wat eintlik lees:"Geen versoeking wat meer is as wat `n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie". Let op dat dit hier oor versoeking gaan, en dat ons dit in hierdie konteks moet verstaan.

Die realiteit is dat ons dikwels juís meer moet hanteer as wat vir ons moontlik is. Ons kom juís al hoe meer onder die indruk van ons broosheid as mense(veral in hierdie pandemie-tyd!). Somtyds slaan die lewe ons met méér as wat ons fisies en geestelik kan hanteer. Juis daarom is ons in baie gevalle totaal afhanklik van God se genade, en in hierdie oomblikke is dit al wat ons het. In hierdie weerlose oomblikke kan ons verseker wees dat God ons sal dra. Dit is egter iets heeltemal anders as om te sê dat God nie sal toelaat dat enige omstandighede my bo my vermoë sal tref nie. Hierdie gedagte lei baie maklik na die sogenaamde voorspoedsteologie wat leer dat niks sleg my sal tref as ek God dien nie.

Kom ons bid dat God se genade vir ons genoeg sal wees wanneer slegte tyding en krisis op ons pad kom.

Groete
Ds Johan

Comments

Popular posts from this blog