Ek wil vandag verder dink rondom die idee dat ons nuwe mense is. Ons het dit só mooi bely en gevier tydens die afgelope Pinksterfees. Vandag wil ek dit oordink aan die hand van `n bekende Bybelverhaal wat vertel van `n episode uit Jakobs se lewe.

Eers is `n bietjie agtergrond nodig. Jakob se naam beteken "aan die hakskeen gegryp" of "bedrieër". Albei hierdie karaktertrekke was in sy lewe teenwoordig. Tydens sy hulle geboorte het hy sy tweelingbroer Esau, aan die hakskeen gegryp om sodoende eerste gebore te word (Gen 25:26). Die bedrieër-eienskap was nét so teenwoordig in sy lewe. Jakob het sy familie so bedrieg, en daarmee uitmekaar geskeur, dat hy moes vlug na `n ander land (Gen 28). Daar bly hy by sy oom, Laban, en hy verkul hom ook! Jakob keer uiteindelik terug na sy geboorteland, ná `n lewe van familieskandes en seerkry. Voordat hysy geboorteland kon ingaan, moes hy die grens by die Jakobdrif aan di Jordaanrivier oorsteek. Hier vind `n interessante en ingrypende gebeurtenis plaas. Sien die uitbeelding van Alexander Lois Leloir getiteld "Jacob Wrestling with the Angel"(1865).


Genesis 32

Jakob stuur sy familie solank deur die drif en oornag op die oewer van die rivier. Skielik word hy wakker wanneer die Here met hom veg (die teks lees dat `n man met hom veg, maar die onknoping in vers 28 dui daarop dat dit die Here is). Tipies van Jakob se manipulerende persoonlikheid vereis hy `n seën voordat hy die Here uiteindelik sal los. So verander sy naam na Israel. In die Antieke tyd was `n mens se naam aan jou karakter gekoppel. Tot dusver het Jakob sy naam van bedrieër gestand gedoen. Nou verander sy naam, en daarmee sy karakter. Die teks lees in vers 31 "Net toe Jakob by Pniël verbygaan, het die son opgekom "`n Sonsopkoms simboliseer `n nuwe dag. Jakob is nou `n nuwe mens.

Ons sê baiekeer: hy/sy sal nooit verander nie! Ons sê dit baiekeer uit moedeloosheid en frustrasie. Ons bely egter dat God mense kan nuut maak. Glo ons dit regtig? Selfs in Jakob se geval het sy familie waarskynlik nié geglo dat hy verander het nie. Die Jakobverhaal toets ons geloof. Glo ons dat Jakob(en daarmee enigiemand) kan verander? Die manier waarop ons hier antwoord, verraai hoe ons oor christenskap dink. Ons definisie van Pinkstertyd, en alles wat daarmee gepaard gaan, hang af ons ons hierdie woorde glo. Kom ons lees môre verder en vind uit of Jakob regtig verander het. Ek laat julle steeds met die vraag om bietjie te oordink :glo jy regtig dat mense kan verander?
Ds Johan

Comments

Popular posts from this blog