GEDAGTE
VIR MAANDAG (1 JUNIE)
Ons
het aan die einde van ons Pinkstertydperk gekom en ek vertrou dat
almal dit verreikend beleef het. Dis interessant dat mense se
belewenis van Pinkster nogal verskil van mekaar. Iemand sê die ander
dag vir my dat Pinkster vir haar soos mostert na die maal is. Ek was
nogal verbaas en het gevra: Hoekom? Haar antwoord was: “Vir my is
Goeie Vrydag en Paassondag die hoogtepunt van Jesus se lydensweg;
Hemelvaart en Pinkster maak nie soveel impak nie.”
Elkeen is natuurlik geregtig
op sy eie siening, maar ek dink tog ek verskil van haar. Vir my is
Hemelvaart en Pinkster eintlik die (onontbeerlike) hoogtepunt van die
hele “Paastyd”. Die kruisiging en opstanding is belangrik, maar
sonder Hemelvaart en Pinkster sou dit ‘n onvoltooide verhaal wees.
Vir
my lê die betekenis van Pinkster daarin dat God, naas talle ander
dinge, vir ons sê: Nou is dit in julle hande. By wyse van spreke: As
God het ek gedoen wat ek wou, my seun, Jesus, het gedoen wat Hy moes
doen, nou moet JULLE die verhaal verder neem. Tog laat God ons nie
aan ons eie oor nie. Hy stuur juis die Heilige Gees om ons by te
staan in hierdie taak en verantwoordelikheid.
Die
feit van die saak is dus: dis nou in my en jou hande om die Evangelie
van die kruisiging en opstanding te leef en te verkondig. Ek hoop dat
Pinkster jou opnuut hiertoe geïnspireer het.
Ds
Gerrie
Comments
Post a Comment