GEDAGTE VIR WOENSDAG (3 JUNIE)

Gister het ons bietjie gesels oor ek en jy wat die Evangelie aan die mense naby ons moet uitleef. In Handelinge 1 : 8 sê Jesus die volgende aan sy dissipels: “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”

Dit is nie bloot toevallig dat hierdie plekname en gebiede so aangedui word nie. Daar sit ‘n besondere betekenis en implikasie daaragter. Jerusalem verwys na hulle eie direkte omgewing (stad), Judea was die land waarin hulle gebly het, Samaria was in ‘n buurland geleë (die Noordryk) en dan die verwysing na die uithoeke van die wêreld. Ons sou dit met konsentriese sirkels kon voorstel. Jeusalem die binnesirkel, Judea die tweede effens groter sirkel, Samaria nog groter en dan die wêreld as die grootste buitenste sirkel. In vandag se terme sou ons dit kon beskryf as: Wees my getuies in Pretoria, in Suid Afrika, dan ook in Afrika en uiteindelik in die hele wêreld.

Jesus gee dus ‘n baie omvangryke opdrag aan sy dissipels. Dit gaan nie net oor hulle eie mense naby hulle nie, dit gaan uiteindelik oor ‘n ganse wêreld wat die Evangelie moet hoor. Dis goed om te begin by diegene naby jou, maar, sê Jesus, dit kan nie daar eindig nie, die Evangelie moet wêreldwyd verkondig word.

Jy vra vir my: Hoe kan ek Japan, of Ysland, of Chili of Soedan toe gaan om die Evangelie te gaan versprei? Nee, ons kan nie almal gaan nie. Daar is egter mense wat geroepe voel om dit te doen en ons kan ten minste vir hulle bid, en waar die geleentheid opkom, hierdie mense ondersteun ….

Ds Gerrie

Comments

Popular posts from this blog