Goeie môre gemeente.
Vanoggend is ‘n lekker wintersdag maar hulle is ook nodig want dit is mos
winter, die herskeppings seisoen wat sorg vir die rus om ons dan te bederf met
die lente se mooi.
Ons oordenking gaan juis vanoggend oor herskepping. God wat die brief wat
ons vir ons eie lewe geskryf het, vir ons oorskryf en herskryf sodat Hy geeer
word, wanneer ons Hom vertrou en toelaat.
Rom. 12:2 “Laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”
Die lewe skommel ons soms maar erg..so het ons tog die voor en na fotos van
sekere tye in ons lewe. Die wonder is dat God gedurig herskryf aan ons
lewensbrief en dan breek die wierookgeur deur en word my skewe lewensbrief
n God gegeurde wierookbrief wat’n aangename geur is, en selfs die
buitestaander herinner aan God se kragtige werking deur die wat glo.
Daar is baie voorbeelde daarvan in die Bybel. Die Anna’s, die Esters, die Josefs,
die Daniёls en ons kan bladsye volmaak met name. Kom ons stap net so ‘n
entjie saam met Saulus....die vervolger van die mense van die weg en die
bewaker van die Joodse tradisies. Gesien vanuit die oogpunt van die destydse
Joodse volkleiers was hy ‘n edelman met edel oogmerke. Dan kom die
Damaskus ontmoeting. God skryf vir hom n nuwe lewensbrief en die mense
lees sy nuwe brief en ons lees in Hand 9:21 : Almal wat hom gehoor het was
verbaas en het gesê, “Is dit nie die man wat in Jerusalem al die mense wat
hierdie Naam aanroep wou uitroei nie?”
Saulus word Paulus, hy word ’n ander brief met ‘n ander boodskap. ‘n Kragtige
brief met ‘n kragtige boodskap van redding.
Elkeen wat glo het iewers op sy of haar lewenspad Damaskus oomblikke. God
hou nooit op met skryf aan ons lewensbrief nie. Hy ken ons en Hy stuur ons as
Sy brief na daar waar iemand ‘n stukkie van God se lig nodig het. Ons moet net
nooit wegskram van die Damaskus oomblikke van herlewing op ons pad nie.
Ek groet julle met die warmte van vrede..
Cois.

Comments

Popular posts from this blog