Goeie môre gemeente.
Ek lees nou onlangs weer die twee
Samuel boeke asook die twee Konings en twee Kronieke boeke. Ek was
opnuut weer gefassineerd oor die geslagsregisters wat terug dateer na
die derde en vierde geslagte van die name wat genoem word in hierdie
registers. Iets wat my opgeval het was dat almal wat genoem word, hoe
belangrik of onbelangrik, se familie register is met ewe veel sorg
genoem en gedokumenteer. Elkeen het saak gemaak.
God kom skryf ‘n nuwe geslagregister
in Jesus Christus en nog steeds is almal ewe belangrik. Van die klein
kindertjies tot die gekruisigde misdadiger wat langs Jesus hang is
belangrik in die nuwe geslagregister. Selfs die soldate wat met die
vierkantige spykers Jesus se hande en voete aan die kruishout vas
spyker is belangrik. Jesus bid vir ‘n tweede, dalk derde kans in
hul lewe, Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Nikodemus, ‘n Fariseёr wat aan die
Joodse raad behoort, kom in die nag na Jesus toe en Jesus sê vir
hom, God het die wêreld so lief dat Hy sy enigste Seun gee sodat die
wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Die wêreld?? Want almal maak saak, almal is ewe belangrik.
In Luk 10:20 lees ons daar word boek
gehou in die hemel van al die name van die wat kinders van God word.
Paulus gee hierdie geslagregister ‘n
naam, ons lees in Fil 4:3 hy noem dit “Die boek van die lewe”.
Openbaring 3:5 kom bevestig hierdie naam met ‘n Goddelike
versekering: “Ek sal nooit sy/haar naam uit die boek van die lewe
haal nie.”
Die detail en sorgvuldigheid waarmee
die geslagsregisters in die Ou Testament op getrek is het my oortuig
dat vir God tel almal. Dit is nog steeds die “Ek Is” wat die nuwe
testamentiese geslagregister in die hemel bewaar...ek en jy is
veilig!!
Vrede vir jou
Cois
Comments
Post a Comment