Ons het gister stilgestaan by `n
keerpunt in Jakob se lewe. Op die grens van sy geboorteland verander
sy naam, en daarmee sy karakter. Ons het gesien dat Jakob se naam van
bedrieër hom goed gepas het, en dat hy orals mense seergemaak het.
Natuurlik bly die wonde van seerkry tussen mense, en as Jakob
terugkeer na die beloofde land, dan besef hy dat hy sy tweelingbroer,
vir wie hy baie seergemaak het, vir hom wag. Hierdie sou Esau se kans
wees om uiteindelik wraak te neem op Jakob, en uit die teks in
Genesis 32 aflei ons dat Jakob bang was. Hy stuur solank al geskenke
vir Esau oor die rivier, om sodoende sy broer se guns te wen. In
Genesis 33, steek die nuwe Jakob die grens van sy geboorteland oor,
en konfronteer hy uiteindeik sy verlede. Die spanning word amper
ondraaglik soos hierdie oomblik naderkom. Ons lees in Genesis 33:4
van die mooiste woorde in die Ou Testament "Esau het hom
tegemoet gehardloop en hom omhels Esau het sy arms om Jakob se nek
gesit en hom gesoen, en hulle het gehuil". Hier kry ons `n mooi
gedagte: Jakob en Esau het albei verander. Na al die jare se
bitterheid, vind die twee broers mekaar.
Hierdie
teks het `n groot rol in die ná-ballingsgskapstyd gespeel. Jakob was
die stamvader van Israel, en Esau van die Edomiete. Die volk Israel
het later verdeel in die Noordryk(Israel) en die Suidryk(Juda).
Tydens die val van Jerusalem het die Edomiete aanvanklik vir Juda
gehelp, maar uiteindelik omgeswaai en hulle by die Babiloniërs
geskaar. Natuurlik is hulle verkwalik daarvoor. Lees weer hoe Psalm
137 oorgaan na `n wraakpsalm in vers 7 " Onthou die Edomiete,
Here, die dag toe Jerusalem ingeneem is, hoe hulle aangehou het met
sê: “Breek af, breek af die stad tot op sy fondamente!". Hier
is `n oproep dat die Here die Edomiete sal uitsorteer om hulle terug
te betaal vir wat hulle teen Juda gedoen het. Daar het egter later
aan die hand van die verhaal van Jakob en Esau `n oproep gekom om die
Edomiete te vergewe en die verlede te vergeet. Sodoende word hierdie
uitreksel uit Jakob se verhaal `n oproep om met nuwe oë na dié te
kyk wat hulle seergemaak het (soos Jesus ook later kom leer het...).
Hierdie
verhaal wys hoe mense kán verander. As mense wat pas Pinkster gevier
het, moet ons kan bely en glo dat God vir my, en die mense rondom
my, kan verander.
Groete
Ds
Johan
Comments
Post a Comment