GEDAGTE VIR MAANDAG (27 JULIE)
Die skrywer van Psalm 71 moet redelik bejaard wees, soos ons kan aflei uit vers 9:
9 Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie,
moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie.
Met hierdie woorde vra hy dat die Here hom moet beskerm teen almal wat teen hom
saamsweer en sy lewe bedreig. Hy baseer hierdie versoek op iets baie spesifieks
waarvan ons in verse 5 en 6 lees:
5 want U, Here, U is my hoop,
op U, Here, het ek van jongs af vertrou.
6 U is my hulp van my geboorte af,
reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm.
Wat hy hier sê, is: Here, U is die Een op wie ek nog altyd kon vertrou, die Een wat
my nooit in die steek gelaat het nie. Daarom is ek oortuig dat ek by U kan skuil, dat
U my sal red en bevry (v 1 – 2). Hy is absoluut oortuig dat God sy rots en vesting is
(v 3), want God het dit nog altyd in die verlede gedoen.
Is dit nie bemoedigend dat ons op ‘n God kan vertrou wat ‘n bewese rekord het nie,
wat ons male sonder tal in die verlede op sy hande gedra het. Ons kan so maklik
twyfel aan God se vermoëns. Voor jy begin twyfel, gaan sit gerus en dink aan die
talle kere in die verlede wat God sy woord gestand gedoen het, ook in jou lewe ….
Ds Gerrie

Comments

Popular posts from this blog