Dagstukkie Dinsdag 7 Julie 2020.
Liewe Gemeente
Ek wil nie vandag oor groot teologiese dinge skryf nie. Ek wil sommer net saam
met jou kuier. Ek het vir my ‘n lekker koppie koffie gemaak en ek wil jou vertel
van die keer toe ek namens ‘n ongebore babatjie ‘n brief geskryf het.
Die storie het nogal ‘n humoristiese begin gehad. Ek was taamlik oorlaai met
werk en het besluit om vir my ‘n persoonlike seketaresse aan te stel wat dan
net op my projekte sal werk. Toe die advertensie in die koerant verskyn sit Pop
‘n voorbidding deur en vra: ‘Bid asb dat Cois die regte meisie sal kry vir hom.’
Die voorbidding versoek het n paar giggles gehad..
Ek het toe die regte meisie gekry, sy het pas klaar geswot en ek is haar eerste
werkgewer. Van dag een af het dinge vlot verloop. ‘n Paar jaar later is sy
getroud en die eersteling uit die huwelik was n seuntjie. Twee jaar later is sy
weer swanger en hoe verder die swangerskap gevorder het het ek agter gekom
iets is verkeerd en so ‘n maand voor die dogtertjie se geboorte toe sê sy al
snikkende vir my dat sy eintlik nie die babetjie wil hê nie. Ek het nie probeer
om hierdie groot speech van moederskap en verantwoordelikhede af te steek
nie, ek het net gesê ek is bly sy het vir my daarvan gesê want ‘n gedeelde las is
altyd ‘n bietjie ligter.
Ek het bietjie oor ons gesprek getob daardie aand en regtig nie geweet hoe
hanteer ek hierdie saak nie. Ek het daaroor gebid en toe skryf ek namens die
ongebore babatjie brief. Ek was altyd baie vroeg op kantoor en het die brief op
haar sleutelbord neer gesit. Hier is die brief:
Hello mamma, ek weet jy is verbaas om hierdie briefie van my te kry, maar hier
waar ek so naby aan jou hart lê dat ek elke klop daarvan duidelik kan hoor,
voel ek so geborge, tevrede en gerus dat ek darem net vir mamma wil sê ek is
lief vir mamma.
Ek moet sê ek is nogal bang vir die wêreld daar buite. Dit klink vir my maar na
‘n vreemde plek, maar aan die anderkant is ek nogal opgewonde om dit te
sien. Waaroor ek eintlik die meeste opgewonde is, is om jou te sien. Ek hoop jy
is net so opgewonde om my te sien.

Ek weet nie eintlik wie is die bangste vir die gebore word storie nie, ek of
mamma nie, maar ek weet mamma gaan daar wees vir my, of ek veel gedoen
gaan kry weet ek nog nie so mooi nie, want die hele idee van om nie meer hier
in my beskermde koekon te wees nie moet ek nog eers ‘n bietjie verwerk.
Mamma dankie dat jy noual met my gesels en ek maak ‘n afleiding dat daar
iemand by jou is wat my pappa is. Ek sal dit nog vorentoe verwerk maar sê vir
hom ek sien daarna uit om hom ook te ontmoet.
Mamma ek is baie jammer dat ek op hierdie oomblik vir jou ‘n bietjie ongemak
veroorsaak, moet asseblief nie vir my kwaad wees nie. Ek moet sê dit raak ook
maar taamlik beknop hier waar ek is, dit is die dat ek so bietjie rek en skop.
Ek glo nie ek gaan weer ‘n kansie kry om ‘n briefie te skryf voor die groot dag
nie, maar ek wil darem net sê ek sien vreeslik daarna uit om jou natuurlik ook
pappa te sien. Moet asseblief nie vergeet om noual vir my te bid nie.
Ek is lief vir jou.
Jou mensie.
Ek het nie gedink ‘n mens kan so huil en lag tegelyketyd nie!!
Ek is nogsteeds in kontak met die gesin, antwoord nog steeds haar vrae oor
geloof en die Bybel. Die babbatjie is noual in graad 11 en ek was die eerste een
wat moes hoor toe die babbatjie haar hart op 15 jaar vir die Here gegee het.
Hoekom vertel ek vir julle die storie. ‘n Mens moenie te gou wees om raad te
gee nie, hoor eers, bid dan, partykeer hoef jy nie ‘n woord te sê nie.
Vrede vir julle
Cois

Comments

Popular posts from this blog