Dagstukkie Maandag 6 Julie 2020.
Geliefdes in die Here, ek sit en dink aan hoeveel mense het al seer gekry bloot
deur die feit dat daar vooroordeel oor hulle gefel word. Ek dink ook aan hoeveel
mense se potentiaal het ‘n knou gekry omdat hulle krities veroordeel word
vanuit die menslike oogpunt. Ek dink altyd aan wat Johannes vir ons geskryf het
1 Joh. 2:6 “Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus
gelewe het.”
Hierdie vers plaas vir my die verhaal van:, “my naaste,” en die barmhartige
Samaritaan in perspektief. Jesus het nie met ‘n BLM plakaat rond geloop nie,
Hy het met die evangelie gekom wat noual vir meer as 2000 jaar verkondig:
ALM. ( ALLE LEWENS MAAKSAAK.)
Kom ek vertel julle van iemand wat deur almal verwerp is en my pad gekruis
het. Hierdie persoon, die verworpene, het my lewe onherroeplik verryk. Ek het
baie jare gelede ook hiervan getuig, maar ek het so baie geleer uit hierdie
ervaring dat ek dit graag weer met julle wil deel.
Hier in die sewentigs is ek toe weer opgeroep vir grensdiens, soos wat dit mos
maar die alledaagse ding was daardie tyd. Ek het egter as gevolg van
administrasie wat ek eers in HK Pretoria moes afhandel, twee dae na my
eenheid by ons bestemming gearriveer. Die aand in die offisiers menasie praat
die manne en ek kom toe gou agter hier is ‘n probleem en die probleem se naam
is Botha* (skuilnaam). Hy was toe al n paar keer in die moeilikheid in die twee
dae. Een ding was seker, Botha was afgeskryf.
Ek het Botha nie geken nie en het daardie nag ‘n bietjie rond gerol oor hom en
gewonder. Die volgende oggend om 05:00 by ons offisiers vergadering is hy toe
weer ‘n besprekingspunt en ek vra toe die bevelvoerder om hom na my toe oor
te skuif, wat natuurlik tot ‘n gespottery en gelag gelei het. Op die rooster is ek
daardie dag ingedeel as offisier aandiens en met die uitstap word ek
gelukgewens met my “super troep” wat ek beslis by die klagte tent gaan kry
want dit is hoe hy sy dag begin, met een of ander skeet.
Met al die gespot met die man erken ek hom toe waar hy in die klagte ry staan.
Die lang maer bleeksiel met die blonde hare. Ek reel toe met die korporaal om
die manne een een in die dienstent in te bring, en so luister ek toe na elkeen en
hanteer hulle so goed ek kan, kyk die army het nie baie genade gehad vir klaers
nie.
Ek moet sê, toe die korporaal luidkeels aankondig: “Hierdie is Botha, luitenant”,
kon ek nie anders as om te wonder wat sy ma sou sê as sy hom toe moes sien
nie, die lang skraal jongman met ‘n oorpak wat tweekeer te groot was om sy
middel vir sy maer lyf en twee tot drie duim te kort vir sy lang bene, was nogal
‘n prentjie.
Ek doen toe iets wat ‘n offisier nie doen nie, ek staan op agter my lessenaar en
stap na hom toe en stel myself voor met: “Môre Botha ek is luitenant Pretorius,
welkom in my afdeling, ek het vanoggend gevra dat jy na my toe oorgeplaas
word”, en toe sommer in dieselfde asem vra ek: “Waarmee kan ek vandag

help.” Die verdwasing op sy gesig om in plaas van ‘n afjak, verwelkom te word,
kan nie met duisend woorde beskryf word nie, en iets wat ek nooit sal vergeet
nie. Natuurlik het hy toe nie ‘n klagte oor homself gehad nie, hy wil maar net
vra of iemand nie vir die kok kan vra om sy hande te was en sy naels skoon te
maak nie, wat toe na ‘n inspeksie deur die korporaal, gebleik het ‘n regverdige
versoek te wees.
Ek vra hom toe wat hy van ‘n radio en radio prosedures weet en hy antwoord
toe baie eerlik dat hy niks daarvan weet nie. Ek onthou nog hoe hy van ‘n
taamlike krom houding gestrek het en regop, met sy hande styf teen sy sye my
in die oë gekyk het en gesê het: “Dit is reg luitenant, ek sal jou nie teleurstel
nie”, toe ek vir hom sê dat ek hom aanstel as my persoonlike radiobediener, en
dat hy net vyf dae het voor ons bos toe gaan, om alles van ‘n radio te weet. Hy
moes ‘n radio uitmekaar kon maak weer aanmekaar sit, herstel en alle
radioprosedures ken, want ‘n radio kan die verskil maak tussen lewe en dood in
die bos. Botha was die beste radiobediener, of seiner soos hulle genoem is, wat
ooit saam met my in die bos was.
Weet jy ek onthou nie eers meer die offisiere wat vir Botha afgeskryf het nie,
maar die afgeskryfde Botha het in sy opgehefde status so ver bo hulle uitgestyg
dat hy ‘n lewenslange indruk op my gemaak het en ek is seker daarvan ook op
die ander manne wat saam met ons in die bos was.
Geliefdes in die Here as ek so aan Botha se verhaal dink, dan wonder ek; leef
ons as gelowiges elke dag as opgehefdes deur Jesus Christus of leef ons as
afgeskryfdes deur die wêreld. Aanvaar ons die uitdagings wat God aan ons stel
om Sy Kerk te wees, of staan ons in die ry van kla en mor. Weet jy ek het die
verandering in Botha se lewe gesien, toe ‘n mens hom ‘n kans gegee het, dink
net wat kan gebeur in ons lewe as ons die kanse wat God ons gee aangryp en
ons Hom toelaat om ons te verander van afgeskryf na opgehef.
My gebed is dat die opheffings vlam van die Heilige Gees altyd in jou lewe sal
brand as ‘n onuitblusbare vuur.
Vrede vir jou.
Cois

Comments

Popular posts from this blog