GEDAGTE VIR DONDERDAG (16 JULIE)
Daar is wonderlike teksgedeeltes in die Ou Testament. Ek het die voorreg gehad
om, nadat ek klaar was met my teologiese studies, nog ‘n paar jaar verder te
studeer. In hierdie tyd het ek veral op die boek Miga gekonsentreer. Een van die
teksverse wat my sterk aangespreek het, was Miga 6 : 8
8 Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
Voordat hy by hierdie stelling kom, vra Miga in die voorafgaande gedeelte die vraag:
Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel?
Dalk ‘n klomp groot offers? Selfs sy eersgeborene offer? Dan kom die verrassende
antwoord. Dit gaan nie oor wat of hoeveel jy na die Here toe bring nie. Die Here vra
net dat ons met ‘n lewe van toewyding voor Hom kom staan. Laat reg geskied,
bewys liefde en trou, leef bedagsaam (in toewyding) voor jou Here.
Ek het al baie in my lewe gewonder: Doen ek genoeg? Is dit wat ek doen “groot”
genoeg? Moet ek nie meer doen nie? God se antwoord is baie eenvoudig: Dit gaan
nie oor hoeveel goeie dinge jy doen nie, maar om die gesindheid waarmee jy dit
doen. Hoe klein ookal, doen dit net in liefde en trou.
Kan dit so moeilik wees om so te leef ….?
Ds Gerrie

Comments

Popular posts from this blog