GEDAGTE VIR WOENSDAG (29 JULIE)
Die profete van die Ou Testament was mense wat spesiaal deur God geroep is om
sy wil aan die volk Israel bekend te maak. Hulle het ook die opdrag gehad om die
volk tereg te wys as hulle verkeerd opgetree het. In Jesaja 6 vertel die profeet Jesaja
ons van sy roeping as profeet:
8 Toe het ek die Here hoor vra:
“Wie kan Ek stuur?
Wie sal ons boodskapper wees?”
Ek het geantwoord:
“Hier is ek! Stuur my!”
9 Toe het die Here gesê:
“Gaan sê vir hierdie volk:
Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie,
en kyk en kyk en tog niks sien nie.”
Om ‘n profeet te wees, was in ‘n sekere sin ‘n baie ondankbare taak. Mens kan jou
indink dat die volk nie altyd daarvan gehou het om op hulle foute gewys te word nie,
nog minder daarvan om voorskrifte te ontvang. Daar was dus dikwels ‘n soort van
antagonisme teenoor die profete. Tog het hulle, ten spyte daarvan, onverskrokke
met hulle taak voortgegaan.
Ons sê dikwels dat ons graag wil getuig vir God, maar dat mense so negatief
daaroor kan wees en ons as’t ware kwalik neem as ons dit doen. Ongelukkig is dit
so, maar Jesus het ons self daarteen gewaarsku toe hy vir sy dissipels gesê het dat
die mense hulle sou verwerp. Dit mag ons egter nie verhoed, om soos die Ou
Testament profete, in die naam van God te getuig nie; ons is daartoe geroep, net
soos Jesaja.
Natuurlik is ons eie lewe ook veronderstel om ‘n stuk getuienis te wees. Sê vandag
weer vir die Here: Hier is ek, stuur my !
Ds Gerrie

Comments

Popular posts from this blog