Liewe gemeente,

Ek lees onlangs `n artikel oor die sogenaamde Disney "Prinses-teologie"(ek het die artikel aanvanklik op Christianity Today se webblad raakgelees, maar kom dit later nie meer opspoor nie. Ek kry toe `n ander verwysing na die artikel op `n nader webtuiste, wat `n uiters waardevolle bespreking insluit:www. patheos.com/blogs/religionprof/2020/06/white-christianity-and-disney-princess-theology.html). Die skrywer skryf eintlik die artikel in die konteks van die relevante, maar uiters ongemaklike onderwerp van rassisme. Ek wil vandag by die Disney-prinses beeld stilstaan omdat dit vir ons iets belangrik van die Bybel leer.

Die skrywer noem dat ons christene met `n Disney-bril na die Bybel kyk. Dit beteken dat ons onsself as die prinses in elke verhaal sien. Ons is altyd Ester, nooit Ahasveros of Hamman nie. Ons assosieer met Petrus, maar nooit Judas nie. Ons sien onsself in die vrou wat Jesus salf, maar nooit as die Fariseërs nie. Ons beleef die verhaal van Israel wat bevry word uit Egipte, maar ons is nooit Egipte nie-en so kan ons voortgaan. Dan maak sy `n belangrike punt: ons het nie altyd die regte lens om na die Bybelse verhale te kyk nie, en daarom sien ons nie altyd die ware beeld van onsself in die Bybel nie. Sy bring die argument tot `n hoogtepunt: ons kan nie reg en geregtigheid laat geskied as ons aanhou om die Bybel deur die Disney-Prinses-bril te lees nie.

Natuurlik kan ons kritiek lewer teen `n artikel soos hierdie (byvoorbeeld deur te noem dat daar maar baie growwe veralgemenings gemaak word). Nogtans het dit my diep laat nadink. Ons is mense van die boek. Ons is gelowiges wat die Bybel as rigsnoer vir ons lewens beskou. Ek dink aan Jaco Strydom se vraag:
"As daar so baie christene is, hoekom is die wêreld nie `n beter plek nie?" Hierdie artikel(en die treffende beeld van die Disney-prinses!) laat my wereeens besef hoe veelkantig die Bybel is en dit laat my met die vraag:Hoe lees ons die Bybel?

Groete
Ds Johan


Comments

Popular posts from this blog