Liewe
gemeente,
Ek
luister laasweek hoe `n sielkundige vertel van die eise wat die Covid
19-pandemie aan ons stel. In die sielkunde praat hulle van "Gestalt",
`n moment waar mens by jou situasie in die oë kyk en by `n tipe van
`n resolusie uitkom. Sy noem dat ons in die huidige pandemie nié `n
toekomsperspektief het nie, omdat dit bloot onmoontlik is om te
bepaal hoe dinge oor `n maand (of selfs `n week!) van nou af gaan
lyk. Omdat ons nié met `n toekomperspektief leef nie, kan ons nie by
die "Gestalt" uitkom nie. In die lig daarvan, wil ek
vandag so bietjie oor die toekoms dink en by die profeet Esegiël
stilstaan.
Die
profeet Esegiël bevind hom saam met die ballinge in Babilonië. Die
boek Esegiël verwoord die volk se poging om sin te maak van die
ballingskap. In hoofstuk 47 (die voorlaaste hoofstuk) lees ons van `n
nuwe Jerusalem. Die hoofstuk vertel hoe `n stroompie water vanuit die
tempel uiteindelik die `n watermassa sal word en genesing bring in
die land. Ons kry `n verwysing van bome wat langs die water sal
groei. Hierdie bome sal heeltyd vrugte dra en die blare sal genesing
sal bring vir die mense (Eseg 47:12). Die beeld van die bome klink
soos die paradysverhaal (Gen2-3), maar ook soos die boek Openbaring,
wat ook vertel van bome wat langs die water groei, en wat genesing
bring vir die mense (Op 22:2). Die boek Esegiël
sluit af met die woorde (in verwysing na die nuwe Jerusalem): "Die
omtrek van die stad moet nege kilometer wees, en sy naam moet van
vandag af wees: Die Here is daar"(Eseg 48:35).
Die
verband tussen Esegiël en Openbaring is belangrik. Ons lees in
Openbaring ook van `n toekomsvisie, waar die mense uitsien na eendag.
Toekomsvisie is belangrik. Ons kan nie net van dag tot dag leef met
géén toekomsverwagting nie. Ons moet glo dat God vir ons `n nuwe
toekoms skep, en dat ons op pad daarheen is. Hierdie gedagte het die
volk in die ballingskap hoop gegee. Mag dit vir ons ook hoop gee
vandag.
Groete
Ds
Johan
|
|
|
Comments
Post a Comment