Liewe gemeente,

Ons dink steds rondom die tema van ons lewe as `n erediens. Vandag fokus ons op die element van offergawe, wat `n belangrike rol in ons eredienste speel.

Ons lees in Deuteronomium 26 van `n interessante ritueel in ou Israel. Hulle het as deel van `n oesfees elke jaar die eerste opbrengs van die oes na die heiligdom gebring om aan die Here te offer. Die gedagte agter hierdie gebruik lê daarin dat die Here die erkenning kry vir die oes. Die boere wéét dat hulle uitgelewer is aan die elemente van die natuur, en daarom is hulle dankbaar as die oes `n sukses is. Die offer van die eerstelinge van die oes is `n manier om God die eer vir die opbrengs te gee. Die volk het dit egter nie daar gelaat nie. Deuteronomium 26 lyk amper soos `n geloofsbelydenis(v5-9). Sommige kenners meen die hoofpunte van Israel se geskiedenis by hierdie fees geresiteer is as `n geloofsbelydenis. Hulle godsdiens, en daarmee hulle belewenis van God se ingrype in hulle lewe en in hulle geskiedenis, was dus deel van die hierdie offer. Let egter op hoe radikaal die belydenis is. Elke drie jaar is `n jaar van tiendes (v12-13). Dan moet `n tiende van die jaar opsy gesit word vir dié wat niks het nie (Die Leviet en die weduwee). Hier lê weereens `n gedagte dat dit nie mý grond of mý besittings is nie, maar dat dit aan die Here behoort. Die belydenis maak ook ruimte om aan dié te dink wat minder het.

Ek dink steeds aan Florandia lied 90, want dit verwoord dit eintlik baie mooi: "My hele lewe moet vir u `n offer wees". Die idee van `n offer sluit aan by die gedagte dat God in beheer is, dat Hy vir ons sorg, en en dat Hy die dank en erkenning kry. Om hierdie rede offer ek iets van myself op, om daarmee te erken dat alles aan God behoort.

Mag alles wat ons aanpak, beplan en doen aansluit by die gedagte dat God in beheer is. Ons leef in `n selfgesentreerde wêreld, wat die teenoorgestelde leer, naamlilk dat ék en mý behoeftes die belangrikste is. Jesus het vir ons kom leer dat ons in onsself en ons selfgerigtheid moet sterf, voordat ons iets van die koninkryk van God kan verstaan. Mag ons lewe inderdaad `n offer aan God wees.

Groete
Ds Johan

Comments

Popular posts from this blog