Liewe
gemeente,
Ons
het Maandag bietjie oor toekomsvisie gesels. Vandag wil ek oor die
verlede nadink. `n Onlangse artikel het juis die onderwerp op `n
interessante manier aangepak (www.
christianitytoday.com/ct/2020/july-web-only/sabella-nostalgia-spiritually-dangerous-covid-golden-calf.html).
Omdat ons in `n pandemie-toestand leef, kan ons so maklik
terugverlang na "die goeie ou dae". Die artikel verwys
daarna deur die uittog uit Egipte as voorbeeld te gebruik. Die titel
van die artikel beskryf die inhoud op `n treffende wyse: "Our
Nostalgia is Spiritually Dangerous". Let op die subtitel: "Why
we shouldn’t worship the golden calf of the ‘pre-COVID’ days".
Die
beeld van Israel by Sinaiberg vorm die hoofbetoog van die artikel.
Die volk het bevryding uit Egipte beleef, wat saamgegaan het met
talle wonderwerke. Nogtans was daar `n hunkering na die verlede.
Terwyl Moses bo-op die berg was, het die volk se nostalgie oorgeneem
en hulle het `n goue kalf gemaak en aanbid (die oorspronklike
Hebreeus verwys eintlik na na die verkleiningsvorm van `n bul-`n
klein bulletjie). Die roetine van die “ou dae” in Egipte het
plekgemaak vir `n onsekere toekoms en hulle kon nie daarmee saamleef
nie. Hulle wou teruggaan na die bekende. Die res is geskiedenis.
Ons
kry `n verwysing na C.S Lewis se bekende begrip dat die Gees in die
huidige oomblik werk, en van ons `n respons vra:“Obeying the
present voice of conscience, bearing the present cross, receiving the
present grace, giving thanks for the present pleasure". Om in
die verlede te leef, steel dus ons kans om met die Gees te wandel.
Nostalgie lyk dus onskadelik, maar kan die werk van die Gees in ons
harte belemmer.
Ons
sal êrens moet vrede maak met die feit dat die verlede verby is, en
dat ons nou in die woestyn leef. God het juis Hom aan Israel in die
woestyn verbind, en ons moet glo hy dat ook nou bystaan en na `n
beloofde land sal lei. Ons kan nie toelaat dat ons onsekerhede ons in
die verlede laat leef nie. Die Here wil ons hiér en nóu gebruik in
die onsekerheid en gebrokenheid van hierdie oomblik.
Groete
Ds
Johan
Comments
Post a Comment