GEDAGTE VIR DIE
DAG
DONDERDAG 13
AUGUSTUS
Die laaste gebod
handel oor die feit dat ons nie mag begeer nie. ‘n Hele lys
voorbeelde word gegee wat dateer uit die tyd en omstandighede van die
volk in daardie tyd: Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie, nie sy
vrou nie, nie sy besittings nie, ens. In wese gaan dit daarom dat jy
niks wat iemand anders het, en jy nie het nie, moet begeer nie.
Oftewel, wees tevrede met dit wat jy het en moenie nagaandig wees op
dit wat ander mense het nie.
Dis nie so maklik as
wat dit klink nie. Dit bly maar menslik om die mooi dinge wat ander
het, graag vir jouself ook te wil hê. Tog is die beginsel baie
duidelik: dit wat ons het, het God uit genade vir ons gegee en
daarmee moet ons tevrede wees. Daar is ‘n baie mooi woord wat dit
beskryf: vergenoegdheid. Daarmee saam ook die gedagte van
dankbaarheid: wees dankbaar vir alles wat jy het en moenie altyd meer
en meer wil hê nie.
Die gebod impliseer ook ‘n ander belangrike beginsel. As ons
tevrede is met wat ons het, word dit al hoe makliker om dit wat jy
het, met ander te deel. Ironies genoeg, hoe meer ons het, hoe meer is
ons geneig om daaraan vas te klou. As ons egter vergenoegd is, sien
ons makliker die nood van ander mense raak en is ons bereid om te
deel.
Kom ons kyk weer ‘n
slag om ons rond en sien die nood van ander raak. Dit gaan ons
waarskynlik inspireer om dankbaar te wees vir wat ons het.
Ds Gerrie
Comments
Post a Comment