GEDAGTE VIR DIE DAG
MAANDAG 10 AUGUSTUS
Kom ons deel hierdie week ‘n paar gedagtes rondom die Wet (Eksodus 20 en Deuteronium 5). Ons luister op Sondae daarna in ons eredienste, maar ons ken dit so goed dat dit maklik kan gebeur dat ons dit hoor, maar eintlik ook nie hoor nie.
Ons is ook geneig om die Wet te verstaan as ‘n lys van dinge waarteen ons gewaarsku word en wat ons NIE moet doen nie, terwyl die gebooie almal ‘n besliste positiewe element het.
Die eerste gebod stel dit baie duidelik dat ons, naas God, geen ander gode mag hê nie. ‘n Mens se onmiddellike reaksie is om dit te interpreteer as dat niks anders in ons lewens belangriker as God mag wees nie. Dit kan baie vorme aanneem: geld is ‘n moontlikheid, my eie sukses en voorspoed is nog ‘n moontlikheid, my werk kan allesoorheersend in my lewe raak, ek kan selfs my familie bo God stel. As dit nie waar is van my lewe nie, dan volg dit baie maklik dat ons sê: Daarmee het ek voldoen aan die eerste gebod.
Dit mag wees dat ek voldoen het aan wat ek NIE moet doen nie, maar dit beteken nog nie dat ek doen wat ek MOET doen nie, naamlik om God die middelpunt van my lewe te maak nie. Die gebod vra in die positiewe sin van die woord dat ons aktief ons lewens rondom God inrig. My hele ingesteldheid moet een wees van God is die bepalende faktor en in alles is Hy die een wat my lewe regeer. Eers wanneer ons daardie punt bereik het, het ons voldoen aan die eerste gebod.
Mooi week vir jou.
Ds Gerrie
Comments
Post a Comment