GEDAGTE VIR DIE DAG
DONDERDAG 27 AUGUSTUS
“Jy mag nie steel nie” is wat die agste gebod ons leer. Waarskynlik sal die meeste van ons onmiddellik sê: Ek steel niks van niemand nie. Ook in hierdie gebod is daar ‘n paar belangrike beginsels opgesluit. Dit gaan om baie meer as net die feit dat ek nie ander mense se goed moet vat nie.
Om nie te steel nie, beteken dat ek tevrede moet wees met dit wat ek het. Gewoonlik “steel” mense omdat hulle ongelukkig is oor die feit dat hulle nie “genoeg” het nie. Ons wil meer en meer hê, en as ons dit nie kan kry of kan bekostig nie, dan “steel” ons dit. Hierdie gebod sluit dus baie nou aan by die laaste gebod wat sê dat ons nie moet begeer nie.
Dit beteken ook dat ek ander mense gun wat hulle het, al is dit meer as wat ek self het. Daarmee saam impliseer dit dat ek respek het vir ander mense se besittings. Wat aan iemand anders behoort, hanteer ek met versigtigheid en oordeelkundigheid.
Baie nou hieraan verwant hieraan is die beginsel van eerlikheid. As ek steel van ander, is ek oneerlik. As ek oneerlik is, voldoen ek nie aan wat God van my verwag nie. Oneerlikheid is een van die dinge wat menseverhoudings baie skade aandoen, want dit beteken dat ons mekaar later nie meer kan vertrou nie.
As ons dit moet saamvat: wees tevrede met wat ek het en gun ander mense wat hulle het.
Ds Gerrie
Comments
Post a Comment