Liewe gemeente,
Een interessante nuusbrokkie het onlangs my oog getref: `n afgetrede Pastoor, Rick Milby, se droom is om die hoogste kruis in die VSA te bou. Die poging is nie uniek nie. In die afgelope 30 jaar was daar ses pogings om die hoogste kruis te bou. Die vorige rekord was `n kruis van 214 voet hoog (65.2m). Milby se droom is om `n 230 voet hoë kruis (70m) te bou. In `n onderhoud het Milby genoem dat hy `n evangelie-droom met die projek koester. Hy droom dat mense na die kruis toe sal stroom, waar hulle hulleself sal bekeer en doop. Die visie strek eintlik verder. Hy visualiseer `n replika van die tuin van Getsemané en Jesus se graf. `n Plan vir `n kapel waar huwelike bevestig kan word, is in die kiem gesmoor omdat daar versoeke vir selfdegeslag-huwelike kan ontstaan. Uit die aard van die saak wil mens nie sommer iemand se drome vernietig nie, maar ek wonder oor die evangelisasie-visie. Miskien moet ek dit liewer so stel: wat sou Paulus van die evangelisasie-visie gedink het?
Paulus
het juis tyd gemaak om gelowiges te herinner om die evangelie in
hulle lewens te verbeeld. Hy herinner ons dat ons `n tempel is wat
God verteenwoordig (1 Kor 3:16;6:19). In 2 Korinthiërs
2:15 noem Paulus dat ons die evangelie soos `n aangename geur moet
versprei. Later gebruik hy die beeld dat ons briewe van Christus is
wat op ons harte geskryf is (2 Kor3). Óns
is die evangelie. Paulus het juis gesukkel om gemeentes te oorreed
om geld uit oorvloed te skenk aan die arm gemeentes (2 Kor 8-9). Ek
wonder wat sou Paulus gedink het van die idee om geld aan `n kruis te
spandeer. Terug by die kruis-blykbaar is daar reeds $250 000 (min of
meer R5 miljoen) ingesamel vir die projek. Die fondasie alleen het
870 ton sement beloop. Wat sou Paulus met die geld en energie kon
doen?
Groete
Ds
Johan
Comments
Post a Comment