Liewe gemeente,
Ek was die afgelope tyd diep getref deur die verhaal (of soos die engelse sê: the rise and fall) van John Ortberg. Die droewige verhaal klink so: Ortberg was vir die afgelope 17 jaar die senior predikant van Menlo Presbiteriaanse kerk in Menlo Park, Kalefornië. Onder Ortberg se leierskap het die gemeente gegroei tot `n “Mega-kerk”, wat nogal`n prestasie vir tradisionele kerke soos die Presbiteriaanse Kerk is. Behalwe vir die feit dat hy `n briljante orator is, het hy sy naam gemaak met sy talle goed deurdinkte boeke. Ortberg se kwaliteit-boeke is `n rariteit in die geestelike boekmark, wat meestal gemik is op populêre temas. Die afgelope tyd het die suksesverhaal egter in `n tragedie ontwikkel. Een van die jeugleiers van die gemeente het aan Ortberg erken dat hy op `n ongesonde manier aangetrokke voel teenoor die jongmense wat hy bedien. Die haakplek was egter dat dit Ortberg se eie seun is wat die belydenis gedoen het-`n feit wat Ortberg nie aan die kerkraad geopenbaar het nie. Die gevolglike ondersoek van die kerkraad was op later getuienis meer `n toesmeerdery as `n behoorlike ondersoek, en die persoon kon uiteindelik voortgaan om die jongmense te bedien. `n Paar maande gelede het die bom egter werklik gebars toe een van Ortberg se ander kinders (wat aanvanklik die saak onder die kerkraad se aandag gebring het) met die sak patats vorendag gekom het. Nog `n ondersoek is geloods en Ortberg het uiteindelik laasweek bedank. Blykbaar was hy regtig oortuig dat sy seun nie gevaar vir die jongmense inhou nie, maar hy erken dat hy die saak verkeerd gehanteer het. Ortberg skryf verder dat hy die vertroue met die gemeente gebreek het en dat hy nié sy rol as pa en sy rol as gemeente-herder in hierdie geval kon balanseer nie.
Uiteindelik
het die verhaal baie hartseer momente. Ek het onmiddelik aan Eli
gedink, wat óók gesukkel het om sy rol as pa en as priester te
balanseer ( 1 Sam 2). Wat eintlik my die meeste getref het, is die
gewaarwording dat ons ál ons keuses gevolge dra. Ek het hierdie
naweek op Menlo Church se webtuiste rondgelees en op baie briewe
afgekom waar ouers hulle kinders uit die jeuggroepe wil uithaal,
omdat die vertrouensband volgens hulle té veel skade gelei het. Ons
besluite, ons keuses maak saak-en raak uiteindeik baie ander mense.
Ons kan dit nie genoeg besef nie.
Groete
Ds Johan
Comments
Post a Comment