Liewe gemeente,


Ons dink steeds aan die pandemie as poort na `n nuwe lewe of nuwe skepping (sien Maandag se bydrae). Ek het hierdie insetsel as basis gebruik, omdat die skrywer die huidige pandemie uit `n positiewe hoek sien-iets wat maak dat ons anders na die wêreld en na mekaar kyk. Ons as gelowiges moet juis só leef dat krisisse as geleentheid sien. In die insetsel noem Arundhati Roy dat ons die nuwe toekoms sonder bagasie moet aanpak (Sy noem `n paar elemente soos haat, vooroordele, mishandeling van die natuur, ensovoorts). Hier lê `n belangrike beginsel wat ons as gelowiges naby aan die hart lê.


In Henry Cloud se boek, Necessary Endings (julle sal onthou dat ek `n paar keer in eredienste hierna verwys het), verduidelik hy hoe ons moet leer snoei. Hy beskryf hoe roosbome se dooie takke, siek takke, en selfs takke wat besig om te vergaan, gesnoei moet word. Hy beklemtoon egter dat ons somtyds ook gesonde takke moet snoei. Takke wat só welig groei, dat dit die ander takke toegroei. Paulus (en later Calvyn) het moeite gemaak om die christelike lewe as die afsterf van die ou, en die omarm van `n nuwe lewe met Christus beskryf. Ons dra soms swaar aan bagasie wat ons aftrek, en daarom moet ons in `n gewoonte kom ons in ons lewens te snoei en af te sny dít wat my vrede en my verhouding met God belemmer.


Die pandemie het ons op `n skerp manier herinner dat ons pelgrims is, en dat ons nié vas aan hierdie wêreld is nie (iets wat gelowiges lankal moes besef het). Pelgrims reis lig, en dra nét dit wat hulle nodig het. Mag ons die toekoms tegemoet stap deur van oortollige bagasie ontslae te raak.


Groete

Ds Johan



Comments

Popular posts from this blog