Liewe gemeente,
Ons het hierdie week so bietjie gedink oor die pandemie as geleendheid om as christene met nuwe oë na die wêreld te kyk. Die term "nuwe skepping" is baie hierdie week gebruik. Vandag wil ek vir oulaas stilstaan by die skeppings-motief.
In Genesis 1:2 lees ons dat God alles uit donkerte en chaos geskep het. Hierdie is `n belangrike geloofsbelydenis. Israel het in moeilke tye na hierdie geloofsbelydenis teruggegryp. Die meeste navorsers is dit eens dat die Genesis 1 in die babiloniese ballingskap ontstaan het. In hierdie tyd was Israel ontwortel, weggevoer van hulle eie land en gestroop van alles wat vir hulle saak gemaak het, soos die tempel en die ark. In hierdie tye kon hulle mekaar troos met die gedagte dat God die skepper is, en dat hy wéér kan skep uit chaos. Hulle kon bemoediging vind in die woorde dat God hulle harte en situasie kan herskep en nuutmaak. Misien is dit goed dat hierdie belydenis letterlik aan die begin van die Bybel staan, want hierdie is `n belydenis wat ál ons twyfel en vrese gesond maak. As dinge in ons harte, of daar buite in die wêreld chaoties en donker lyk, is dit nié noodwendig `n slegte ding nie. Genesis 1 leer dat God sy beste werk in donkerte en chaos doen. Mag ons in hierdie tyd troos en bemoeding uit hierdie belydenis skep.
Groete
Ds Johan
Comments
Post a Comment