Liewe gemeente,
Ek kyk onlangs na `n video-insetsel van die Indiese skrywer, Arundhati Roy (sien skakel heel onder). Sy lees voor uit `n boek van essays wat eersdaags verskyn, getiteld Azadi: Freedom. Fascism. Fiction. Die spesifieke essay is getiteld "The pandemic is a Portal". In hierdie treffende essay beskryf sy hoe ons almal redes soek vir die huidige pandemie (chinese komplot? God se straf? die natuur se wraak?, ensovoorts). Verder probeer ons om terug te keer na normaal, en sodoende die toekoms weer te bind aan die tyd vóór die pandemie, asof dit nooit plaasgevind het nie. Dit kán egter nie, of soos sy dit stel: " a rupture exists". Volgens Roy het pandemies nog altyd mense gedwing om nuut te dink. Sy sien die pandemie as `n poort ("portal") na `n nuwe begin: "We can choose to walk through it, dragging the carcasses of our prejudice and hatred, our avarice, our data banks and dead ideas, our dead rivers and smoky skies behind us. Or we can walk through lightly, with little luggage, ready to imagine another world". Die beeld wat vassteek, is dié van `n nuwe wêreld.
Hierdie essay het my laat dink aan die Paulus. In Grieks kry ons twee terme vir ons woord "nuut". Eerstens is daar neos. Die woord klink soos "nuus," en dit beskryf iets wat inderdaad maar van korte duur is. Nuus word vinnig ou nuus. Die tweede term, kainos, kom in Paulus se briewe in die konteks van `n nuwe skepping voor (Kol 3:10; 2 kor 5:17, 2kor 3:6; Heb 9:15; ef 2:15). Hierdie is ingrypende vernuwing- `n nuwe skepping.
John Ortberg noem dat God nooit verwag dat ons net moet blý nie. Hy maak deure oop en vra ons om deur te stap. Hierdie beeld bring ons terug by Arundhati Roy se essay. Wat kan gebeur as ons christene die pandemie werklik as `n poort na `n nuwe wêreld sien? Die nuwe skepping, die vernuwing waarvoor ons so lank gebid het? Wat vra dit van ons?
Groete
Ds Johan
skakel na video : https://www.youtube.com/watch?v=7hgQFaeaeo0
Comments
Post a Comment