GEDAGTE VIR DIE DAG

DONDERDAG 1 OKTOBER


Daniël 3:1-30

Ons het ons God vir wie ons dien


Is dit nie ironies dat dieselfde Nebukadnesar wat so pas erken het dat die God van Daniël die grootste is, so maklik weer daarvan vergeet en almal nou wil forseer om voor sy god neer te buig nie? Die oomblik wat enige musiek begin speel, moet almal neerbuig en hierdie afgod aanbid. Sadrag, Mesag en Abednego is nie bereid om hulle God te verloën nie, en weier om die beeld te aanbid. Selfs die feit dat hulle “‘n laaste kans” gegee word om aan die koning se wet te voldoen, bring hulle nie van stryk nie. Hulle verklaar onomwonde: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red ...” Wat ‘n ongelooflike vertroue in hulle God wys hierdie drie manne nie. Kan God weer eens sy mag vertoon? Natuurlik! En dit is presies wat Hy doen. Uiteindelik stap die mans ongeskonde uit die oond en almal staan verstom. Vir die soveelste keer moet Nebukadnesar erken dat alle eer die God van Sadrag, Mesag en Abednego toekom. Geen ander god kan Hom dit nadoen nie. Hy verklaar boonop dat niemand met minagting van hierdie God mag praat nie. Hoe sterk is ek en jy bereid om standpunt in te neem vir die God in wie ons glo?


Comments

Popular posts from this blog