GEDAGTE VIR DIE DAG
WOENSDAG 30 SEPTEMBER
Daniël 2:24-49
God se mag verstom selfs ‘n vreemde koning
Die oomblik toe God aan Daniël die droom en die uitleg daarvan bekend maak, word Daniël na die koning toe gebring. Dit sou vir Daniël ‘n uitstekende geleentheid gewees het om sy eie beuel te blaas en sy posisie in die paleis te versterk deur die indruk te skep dat dit hyself is wat in staat is om die droom uitl te lê. Hy behou egter sy nederigheid en afhanklikheid van God deur aan die koning te sê dat hy nie méér wysheid as enige ander mens het nie, maar dat God hom bloot gekies het om ‘n belangrike boodskap by die koning uit te bring: God wil aan Nebukadnesar bekend maak wat in die toekoms gaan gebeur. Wanneer Daniël dan die droom en die uitleg daarvan aan die koning bekend maak, kan Nebukadnesar niks anders sê as “Werklik, julle God is die grootste van al die gode. Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime .... Wat ‘n “belydenis”, veral komende van ‘n heidense koning. Ek wonder of ons altyd besef watter effek ons doen en late, en dít wat ons sê, op ander mense kan hê, veral as ons dit in afhanklikheid van God doen en in nederige erkenning dat Hy die Een is wat ons in sy diens gebruik.
Comments
Post a Comment