Liewe gemeente,
Ons is besig om te beplan hoe en wanneer ons weer na tradisionele eredienste gaan terugkeer. Tydens `n informele gesprek met `n lidmaat, gesels ons oor die sang-element. Uit die aard van die saak is dit moeilik om erediens te hou sonder om te sing. Hierdie het my laat wonder: hoe belangrik is sang regtig vir ons?
`n Onlangse studie in Amerika het hierdie vraag uit `n ander hoek benader. Die studie, gelei deur professor Michael Trapper, het `n onderskeid gemaak tussen populêre geestelike aanbiddingsmusiek ("worship songs") en "Hymns" (tradisionele gesange). In beide van hierdie kategorieë, het die studie egter gewys dat daar `n gebrek aan diepte in die lirieke is. Die studie fokus veral op die uitbeelding van God drie-enig, wat in albei hierdie soorte aanbiddingsliedere `n leemte laat. In liedere wat wél op `n manier na God in die konteks van die drie-eenheid verwys, lyk dit so:
Gesange
God as vader 16%
God die seun 68%
God die Heilige Gees 2%
Populêre aanbiddingsliedere:
God die vader 7%
God die seun 68%
God die Heilige Gees 5%
Die mees verrassende aspek van die studie, is dat hierdie data oor denominasies strek. Anders gestel: Pinksterkerke is nié meer geneig om oor die Heilge Gees in verband met die drie-eenheid te sing as ander kerke nie.
Terwyl ons nadink oor eredienste sonder musiek, moet ons dalk bietjie verder dink en vra: is dieselfde tendens by ons teenwoordig? Is ons liedere vlakker as wat ons dink? Of nog meer: dink ons genoeg na oor wat ons sing?
Groete
Ds Johan
Comments
Post a Comment