Liewe gemeente,
Na aanleiding van gister se oordenking, wil ek vandag uit `n ander hoek na gelowigwees en kerkwees kyk. `n Onrusbarende artikel het onlangs bewoord wat ons lankal hoor, naamlik dat ál hoe meer jongmense die Duitse Evangeliese Kerk verlaat, en dat hulle ál hoe meer weier om hulle kerkbydrae te betaal. In Duitsland werk die sisteem anders. As jy met geboorte as `n lid van die kerk geregistreer word, beteken dit dat jou kerkbydrae outematies by jou belasting gehef word. `n Klomp jongmense probeer egter hierdie verantwoordelikheid vryspring deur of uit die kerk te bedank, óf om te eis dat hulle self bepaal hoeveel hulle aan die Kerk wil bydra.
Die dieper tendens is egter belangrik. In 2019 het 542 000 mense (hoofsaaklik tussen 20 en 35 jaar oud) uit die evangeliese en Rooms-Katolieke kerke bedank. In `n 2014 studie het die kerkbelasting egter die sesde plek ingeneem in die lys van redes waarom jongmense die kerk verlaat. Die grootse rede blyk te wees dat die kerk net nie relevant in die samelewing is nie. In `n ander studiestuk word 11 aspekte genoem waaraan die kerk sal moet aandag gee om relevant te bly. Dit sluit in: openheid, vroomheid, sending, ekumene (skakeling met ander Kerke), digitalisering, kerkontwikkeling, saamhorigheid, kerkwerkers, leiding, strukture en desentralisering(om bv mag van `n sinodale struktuur te verskuif na gemeentes).
Om weer terug te keer na gister se gesprek: ons kan maklik die vinger na hierdie jonger generasie te wys, maar die tendens se wortel lê waarskynlik baie dieper. Hoe lyk die ouerhuise waar hierdie mense groot geword het?
Groete
Ds Johan
Comments
Post a Comment