Dagstukkie 12 Okt 2020.
Liewe gemeente
Ek was eenkeer op ‘n sake besoek in Durban gewees. Ek gaan eet toe sommer vroeg in die restuarant op die grondvlak van die hotel waar ek tuis gegaan het, want ek wou nog bietjie gaan werk en voorberei vir die volgende dag se vergadering. Die plek was nog taamlik leeg want dit was maar so 19:30 en ek merk toe die jong paartjie op wat so ‘n paar tafeltjies van my af in die hoek gesit het. Duidelik baie verlief en ek dink toe so by myself, seker ‘n “honeymoon” paartjie.
By die huisbak gekom oppad na my kamer toe, stap die jong paartjie saam met my in die huisbak in. Ek groet hulle toe en die jongman, terwyl hy die vroutjie styf om die middel vashou vra my toe: “Sir, do you also think that I have the most beautiful wife ever?” nogal ‘n moeilike vraag om n vreemdeling te vra. Sê ek ja, kan ek ‘n opstopper kry, sê ek nee gaan ek verseker ‘n opstopper kry. Toe antwoord ek hom so: “My vriend, die vraag wat jy my vra is irrelevant vannaand, jy moet jouself die vraag of sy nog vir jou die mooiste vrou is oor twintig jaar vra, en jou antwoord dan sal bepaal of vannaand spesiaal sal wees vir die res van jou lewe.” Dit is waar die hysbak toe stop op my vloer en ek hulle ‘n goeie aand toewens en uitstap terwyl hulle hoёr op gaan. Daar was nie tyd vir hom om my te antwoord nie, maar ek onthou vandag nog die verbasing op sy gesig.
Ek het agterna bietjie gedink oor hierdie op my voete dink antwoord aan die jongman en tot die slotsom gekom dit is dalk relevant ook in ons verhouding met ons Here om dan vir onsself te vra: Is my liefde vir die Here nog net so brandend soos in die begin, tenspyte van dinge wat dalk op my pad met my gebeur het. Geliefdes in die Here, hoe opgewonde is ons nog om Bybel te lees, om spesiaal tyd te maak om te bid, om intiem in gesprek met God te wees, Hom te hoor uit Sy Woord en Hom dan te antwoord uit ons hart.
Die Here antwoord hierdie vraag van Sy kant af en sê: Ek die Here is altyd daar vir jou, Ek sal jou nooit verlaat nie. My Seun se uitroep, “dit is volbring” aan die kruis is die bewys van My liefde vir jou en Sy opstanding dui die weg aan om vir ewig by My te wees.
Vrede vir jou
Cois
Comments
Post a Comment